Die einde van Pakistan?

'n Herskepte kaart van Suid-Oos Asië doen nou die rondte in Pakistan. Dit wys die land as 'n lang, maer stukkie grond met 'n groter Indië aan die oosgrens en 'n vergrootte Afghanistan aan die westekant.

Die kaart is die eerste keer gesirkuleer as 'n oefening in Amerikaanse neokonserwatiewe kringe. Pakistani's glo dat Amerika Pakistan wil opbreek, omdat Pakistan die enigste Moslem land is met kernwapens.

"Een van die grootste vrese van Pakistan se militêre beplanners is dat die samewerking tussen Indië en Afghanistan Pakistan kan vernietig," het 'n senior Pakistanse regeringsamptenaar wat betrokke is by strategiese beplanning gesê. Die beampte het aangedring op anonimiteit. "Somme mense voel dat Amerika agter alles is," het hy verder gesê.

Dit is 'n land waar jare se swak regering baie ruimte gelaat het vir samesweringsteorieë van elke denkbare soort. Sulke denke onthul soos in soortgelyke situasies elders die swak plekke in 'n nasie se psige. Geleerde Pakistani's sê soms dat hulle paranoïes is, maar dat hulle goeie rede het. Pakistan is 'n 61-jaaroue land met 'n verskeidenheid etniese groepe in vier provinsies wat op die oog af baie min met mekaar in gemeen het.

Byna op elke grens, wat op arbitrêre wyse getrek is tydens die doodsnikke van die Britse ryk se bewind daar, is daar 'n dispuut aan die gang met die bure, ook met Indië, Pakistan se groot vyand van ouds.

Dié feite en onsekerhede wat hulle meebring, vorm die grondslag van baie van Pakistan se meningsverskille met Amerika, insluitend verskille oor die nodigheid daarvan om militante groepe soos Al Kaida en die Taliban te beheer en te beperk.

Amerikaanse bevelvoerders, generaal David Petraeus ingesluit,  het al driftig geargumenteer dat die oplossing vir die konflik in Afghanistan, waar die Amerikaanse oorlogspoging al meer onseker lyk, is om op die werklike bedreigings te fokus, naamlik Al Kaida en die Taliban.

Obama het baie dieselfde menings in sy verkiesingsveldtog uitgespreek. Kennelik is die VSA bekommerd dat Sjina se invloed toeneem.

Indien die spanninge tussen Pakistan en Indië ontlont kan word, kan Pakistan fokus op die bedreiging wat Al Kaida en die Taliban verteenwoordig.

"Indien Pakistan met vertroue na die ooste kan kyk, sal hy minder geneig wees om te glo dat dit tot sy voordeel is om met die Taliban saam te werk," het Obama verlede jaar in die Foreign Affairs-tydskrif geskryf.

Indië se kernooreenkoms met Amerika, wat Indië toelaat om kernhandel te betree, selfs al is hulle nie lid van die kernsperverdrag nie, word deur Pakistan gesien as duidelike steun aan Indië.

Met sy onlangse gemoeidheid met die verspreiding van kerntegnologie, het Pakistan egter nie so 'n ooreenkoms verkry nie.

Dié kerntransaksie is in Washington uitgewerk om Indië te posisioneer as 'n teenbalans vir Sjina. Dit is wel hoe dit in Pakistan gesien word, maar sonder enige entoesiasme.

"Amerika het die hele kernorde met die transaksie verander, en op 'n manier wat Sjina, wat Pakistan se enigste vriend in die streek is, beperk," het Talat Masood, 'n afgetrede generaal gesê.

Verder is Pakistan ongelukkig oor die vordering wat Indië in Afghanistan maak, sonder dat Amerika iets daaroor sê, het Masood gesê.

Indië het onlangs groot beleggings gemaak in Afghanistan, waar Pakistan ook meeding vir invloed. Een van die beleggings sluit in 'n pad na die Iranse grens, wat vir Indië toegang sal gee tot die Iranse hawe Chabahar, sonder dat hulle deur Pakistan hoef te gaan.

Indië het opleiding aangebied vir die Afghaanse militêre magte, hulp verleen vir 'n nuwe parlementsgebou in Kaboel en konsulate heropen op die grens met Pakistan.  

Crystal LuxДанильченко Харьков

Maak 'n opvolg-bydrae