'n Paar miljoen lewens was reeds opgeoffer in dié land voor die vredesooreenkoms wat in 2003 beslag gekry het. Om nie te praat van die reusebedrae wat bewillig is vir vrede nie. Intussen het die VN se vredesmagte, hulle grootste mag tans in enige land, verhoed dat etlike smeulende konflikte handuit ruk en 'n nasionale kwessie word. Maar hulle teenwoordigheid het nie verhoed dat grusaamhede deurlopend gepleeg is nie.
Die berigte dat Rwanda dalk betrokke mag wees om die rebelle van generaal Laurent Nkunda by te staan, bevat al die ontstellende aanduidings dat die huidige konflik op die patroon van die voriges geskoei is, met buurlande wat deelneem sodat die olievlek van vyandigheid stadig maar seker besig is om oor die streek te versprei.
Etniese Toetsierebelle span saam met Rwanda – die teater van 'n afgryslike volksmoord waarmee die vorige eeu afgesluit is – om Goma te verower. Goma is die hoofbasis van die VN-mag in die DRK. Kongolese troepe het klaarblyklik reeds die hasepad gekies en Kinshasa het 'n dringende beroep op Angola gedoen om toe te tree tot die stryd teen die naderende rebelle.
Volgens berigte is Goma en Rutshuru en moontlik ander dorpe in die rebelle se visier. Wat die VN se taak nog moeiliker maak, is dat die inwoners woedend is omdat die vredesmagte onder geweldige druk verkeer om die situasie onder beheer te bring en gebelgd reageer omdat die VN hulle nie kan beskerm nie. Meer as 'n miljoen inwoners is tans voortvlugtend en sonder enige hulp. 'n Woordvoerder vir Monuc, die vredesmag, Alan Doss, het aan die media gesê dat toestande op die grond elke uur verander en gewaarsku dat hulle met moeite byhou.
Brittanje en die VSA, Rwanda se bondgenote, bevind hul in 'n onbenydenswaardige posisie. As die VN-mag nie staande kan bly teen Nkunda nie en Kinsasha word die volgende teiken met Rwanda wat openlik toetree, sal Rwanda se Angelsaksiese vriende standpunt daaroor moet inneem. Indien nie, sal die mislukking van demokrasie in Sentraal-Afrika op hulle rekening geplaas word. Op die oomblik is Nkunda se teenwoordigheid gegrond op die feit dat gewapende Hoetoes ryk Toetsies in die ooste van die Kongo, 'n minderheid, bedreig. Al die bestanddele vir nog 'n volksmoord is dus teenwoordig.
Daarbenewens gaan 'n mislukking in Sentraal-Afrika by die onlangse inval van Georgië in Suid-Ossettië gevoeg word, wat vir die evangeliese ywer van die Weste om demokrasie te verkoop 'n swaarderwordende las gaan raak.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.