praag.co.za

Leon Lemmer: Stellenbosch as ‘n bron van sin en onsin

Op 25 Mei is Taalrealis van Stellenbosch se brief op Praag hergepubliseer. Dit is as “oplaas ‘n werklik sinvolle brief” aangebied. Dit lyk asof die besef groei dat alles nie wel aan die Universiteit Stellenbosch (US) is nie. Nog ‘n brief, André Coetzee van Stellenbosch s’n, wat in Die Burger (23 Junie, p 12) verskyn het, bevestig dit. Ek haal sy skrywe in sy geheel aan.

“In die lig van die ondeurdagte druk deur studentegroepe onlangs by die UK [Universiteit Kaapstad] en US, kon ek nie anders nie as om die volgende gesegde te onthou: ‘Deur geskiedenis te ignoreer, is jy gedoem om dieselfde foute te herhaal.’*

“As besoekende professor in die VSA kon ek die nadraai van die sinloosheid van onreëlmatige druk by die Stanford-Universiteit beleef.** Die destydse Stanford-rektor, Gerhard Casper, het gesê: ‘We cannot work for Stanford’s future in an environment dominated by politics of ultimatum. If we shortcut argument and reason, we abandon the essence of the university. If universities make their substantive decision[s] for political rather than academic reasons, they have no claims for untrammelled existence.’ (Aangehaal in The Diversity Myth, DO Sacks en P Thiel, 1998).***

“Die eintlik voorspelde gevolge van ‘politics of ultimatum’ aan ‘n universiteit is daar om gelees te word, dan hoef instansies nie dieselfde foute te maak nie.

“In SA sal dit moed kos en ek sien uit dat instansies dapperheid aan die dag sal lê en sorg dat daar teen 2030 nog waardige universiteite sal wees. Met ‘waardige’ bedoel ek ‘n universiteit wat ‘n onbeskaamde Westerse, meritokratiese, akademiese proses ondersteun.**** Die alternatiewe het gewys om onsuksesvol te wees.”

* George Santayana (1863-1952): “Those who cannot remember the past are condemned to repeat it.”

** Stanford is die swart-oorgedienstige universiteit waar Jonathan Jansen sy doktorsgraad gekry het.

*** David O Sacks & Peter A Thiel, The Diversity Myth: Multiculturalism and the politics of intolerance at Stanford, 320p, Amazon Kindle $11,96.

**** Gemeet aan hierdie norme poog die US deesdae om so onwaardig moontlik te wees. Kyk bv die uitlatings van adjunkminister Buti Manamela op die US-webwerf (1 deser): “US moet nalatenskap van die verlede ongedaan maak”, en ‘n US-dekaan, Johan Hattingh, se ANC-gedienstige, anti-akademiese reaksie.

Suzette McKerron

Die Burger hou nie daarvan om ‘n behoudende of konserwatiewe standpunt soos dié van Coetzee sonder teenhanger te publiseer nie. In dieselfde koerant, op die direk teenoorstaande bladsy, is daar die teks van ‘n kliniese sielkundige van Stellenbosch, Suzette McKerron, in die Terloops-rubriek (Die Burger, 23 Junie, p 13). Dit handel oor die verhouding Afrikaans/Engels, wat tans so ‘n brandende vraagstuk aan die US is.

Ten aanvang haal McKerron vir CP Hoogenhout (1843-1922), ‘n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), onder meer soos volg aan: “In ons skole, in ons kerke, word ons moedertaal vermoor./ Ag hoe word ons volk verbaster.” Sy beweer “taalhandhawers in Stellenbosch dink seker gereeld” aan woorde soos hierdie. Daarmee plaas sy Afrikaanse taalhandhawers in die konteks van politieke verkramptheid. Daarna volg hierdie skuins opmerking: “Hoogenhout se woorde laat ‘n mens egter wonder hoeveel taalhandhawing nou eintlik met die voortbestaan van Afrikaans te doen het.” Het taalhandhawing nie (feitlik) vanselfsprekend baie met die voortbestaan van Afrikaans te make nie? Is hierdie stelling van McKerron nie maar bloot ‘n uitdrukking van haar onsimpatieke ingesteldheid teenoor Afrikaans en die uiting van haar politieke oorverligtheid nie?

“Meer as ‘n eeu later en ‘vermoor’ is Afrikaans beslis nog nie. Wel gewurg en in ander mense se kele afgedruk, maar verseker nog robuus. In die goeie ou dae toe Afrikaners nog geglo het hul opinies is ‘n belangrike faktor, het my aangetroude oom Van Aardt op Dinsdae sy lendene omgord en die Kaap ingevaar om [die winkels] Garlicks en Stuttafords se hooghartige Engelse damesklerke met hul blou kapsels in Afrikaans aan te spreek en dan ‘n ophef te maak om in Afrikaans bedien te word. Dis te betwyfel of hierdie houding, hoe kloekmoedig ook al, die Afrikanersaak goed gedoen het.”

Engels word deesdae in groter mate in “mense se kele afgedruk” as wat ooit met Afrikaans die geval was. Die verwysing na “die goeie ou dae” raak ‘n waarheidsnaar aan, maar is heel moontlik sarkasties bedoel. As voortgegaan was om Afrikaners se opinies as ‘n belangrike faktor te koester, sou die nuwe Suid-Afrika myns insiens ‘n beter plek gewees het. Die beskrywing van haar oom wat “op Dinsdae sy lendene omgord en die Kaap ingevaar” het, is humoristies bedoel, maar openbaar McKerron se gebrek aan simpatie met diegene wat ‘n “ophef” maak wanneer vir Afrikaans in die bres getree word. Word die saak van Afrikaans en Afrikaners werklik beter gedien deur niks ter taalhandhawing te doen nie of deur eerder soos Van Aardt te maak? Moet Afrikaanssprekendes eerder versoening en meertaligheid bepleit, soos die armsalige Afrikaanse Taalraad (ATR) deesdae doen, as om ‘n “ophef” oor Afrikaans in winkels te maak? Myns insiens is die ATR se strategie lafhartig, dus nie-kloekmoedig. Afrikaners het sekerlik in dieselfde mate as Engelssprekendes die reg om hulle moedertaal te praat en daarin bedien te word.

Die McKerron-van, dus haar voorkeur vir Engels bo Afrikaans, blyk uit die volgende: “Baie Afrikaners kla oor Afrikaners wat glo ons moet handhaaf en hoge Afrikaans besig. Ander Afrikaners kla weer oor Afrikaners wat sulke geykte Engelse byvoeglike naamwoorde, soos awesome en amazing, by alles voeg. En intussen stu Afrikaans voort, ongesteurd deur die kabaal. Dieselfde geld natuurlik vir Engels. Hoe skeef en krom en met watter uitspraak ook al, word dit die taal waarmee alle Suid-Afrikaners met mekaar kommunikeer. ‘n Ware geskenk van die imperialiste.”

“Hoge” is ‘n neerbuigende segswyse wat dikwels teen ordentlike Afrikaans opgehaal word. Diesulkes het min of geen erg aan Standaardafrikaans nie en moedig mengeltaal aan, op die gevaar af dat dit Afrikaans op die lange duur kan “vermoor”. Afrikaners wat taalgetrou is, word met (onnodige) klaery geassosieer en selfs daarvan beskuldig dat hulle ‘n “kabaal” (rumoer, lawaai) opskop. Al beweer McKerron dat dieselfde vir Engels geld, kom taalvermenging daar glad nie in dieselfde mate voor nie. Engels is glad nie so erg met Afrikaanse woorde deurtrek as wat Afrikaans met Engelse woorde besoedel word nie. Engels word soms wel “skeef en krom” gepraat, maar hierdie verskynsel moet nie misbruik word om diegene te minag wat nie Engels as moedertaal het nie. Engels word dikwels uit nood deur hulle gebruik omdat die ANC-owerheid die koloniale/imperiale taal aan almal opdring.

McKerron roem op haar tweetaligheid en is beswaard oor die swak Engels van Afrikaanssprekendes wat sy destyds aan die Hoër Tegniese Skool op George teëgekom het. Sy gee dan talle (dikwels afgesaagde) voorbeelde, bv dat boomwortels as “carrots” vertaal is. Haar staaltjies is seker as vermaak bedoel. Van hulle is vir haar “pynlik snaaks”, maar dit is net Afrikaanssprekendes se Engels-onvermoë wat belaglik voorgestel word. Sy kom nie uit by Engelssprekendes se beperkte of selfs algehele onvermoë om Afrikaans of enige ander taal baas te raak nie. Wêreldwyd is Engelssprekendes daarvoor berug dat hulle dikwels/meesal onwillig is om ‘n ander taal aan te leer.

Aan die einde van haar skrywe vertel sy dat sy baie bly is “dat die meeste Afrikaners deesdae so goed Engels kan praat. En of ons nou handhaaf of nie, dat ons taal sy eie loop neem.” McKerron wend geen poging aan om die huidige sotlike taalbedeling (11 amptelike tale met Engels as die eintlike taal) en veral die ANC-geïnspireerde (haat)veldtog teen Afrikaans te kritiseer nie. Sy keur foutiewe Engels af, maar Afrikaans, wat al hoe meer met Engels besoedel word, dra haar seën weg. Dit verbly haar dat Afrikaans “sy eie [verbasterde] loop neem.” My geheelindruk van haar rubriek is dat haar gesindheid teenoor Afrikaans en Afrikaners gerus kan verbeter, selfs al verwys sy na haarself as deel van “ons”. Propaganda het by haar sy werk as doeltreffende breinspoelmiddel gedoen.

Firoz Khan

Wim de Villiers, die US-rektor, moedig “robuuste debat” oor transformasie (en by implikasie kampusonrus) aan. Aan die US bestaan transformasie wesenlik uit twee prosesse: verswarting en verengelsing. Terselfdertyd is daar streng beperkings op wat blanke dosente mag sê of andersins doen. Uitlatings word maklik as “rassisme” geëtiketteer en dan is ontslag (soos onlangs met Anton Stander) so ‘n dosent se voorland; mits sy en veral hy wit is.

Daarenteen is daar geen beperking op wat nie-wittes (hetsy studente of personneellede) kwytraak nie. ‘n Sprekende voorbeeld is Firoz Khan se artikel in die Mail & Guardian (3 deser). Die teks is so “robuust” dat dit woordeliks en met ‘n foto van die outeur op die US-webwerf (6 deser) hergepubliseer is. Khan is ‘n dosent verbonde aan die US se Skool vir Publieke Leierskap. Sy teks toon watter soort leierskap deesdae die goedkeuring van die US-bestuur wegdra.

Hoewel Khan ‘n akademiese pos beklee, besprinkel hy sy teks met emosionele linkse evaluerings, bv deur na Nadine Gordimer as ‘n “great novelist” te verwys en Harold Wolpe ‘n “genius sociologist” te noem. Feitlik vanselfsprekend is daar ‘n salwende verwysing na “Madiba” se “magic”. Die ergste is dat na die voorheen benadeeldes, oftewel tans bevoordeeldes, dus nie-wittes, as “slaves” verwys word, bv: “the slave being forgiving and magnanimous to permit the oppressive master back into the fold of humanity and history without any real and substantive commitment to redress, redistribution and substantive social justice.” Khan pas sy grondige linksheid op so ‘n manier op die US toe dat hy by my die indruk wek dat hy met niks minder tevrede sal wees as dat twee wesenskenmerke van die US van weleer, naamlik blankes en Afrikaans, heeltemal moet verdwyn nie. “We are a nation in search of a revolutionary catharsis.” “No longer can we demand of slaves to forget, forgive, reconcile, move on, work harder, endure, be patient, stay calm and pretend.”

Amptelike ANC-beleidsdokumente is vir Khan nie radikaal genoeg nie. In hierdie verband verwerp hy sowel die Reconstruction and Development Plan (RDP) as die National Development Plan (NDP). “Thumb through the pages of the Reconstruction and Development white paper (1994) and there is no evidence to or mention of redistribution and substantive redress.” Die NDP “says nothing about redistribution, redress and changing the unequalising character and exclusionary trajectory of our economy.” Khan dring aan op vergoeding vir beweerde vergrype deur blankes. Myns insiens soek hy eintlik wraak. Onderliggend kan daar ook doodgewone haat wees.

“At the base of the defacing and toppling of colonial statues* at universities, the contestations of names of university buildings, affirmative action regarding lecturers, student admission policies, and demands for the transformation of the institiutional cultures of the university – rhetoric aside – is black intellectual, student and middle-class frustrations over the pace and nature of transformation. As one writer put it: while the challenges, contestations and demonstration may be ‘cathartic and fulfilling’, it ‘terrifies some white people because they see the statues [and institutions and culture] as metonyms for their race’ [and power].”

[* Cecil John Rhodes word deur Khan ‘n “racial metonym” genoem. Volgens die Wikipedia is “metonymy … a figure of speech in which a thing or concept is called not by its own name but rather by the name of something associated in meaning with that thing or concept.” Dus Rhodes = rassisme. In sy outobiografie haal Dirk Mudge vir Rhodes soos volg aan: “I contend that we are the finest race in the world and the more of the world we inhabit the better it is for the human race” (Enduit vir ‘n onafhanklike Namibië, Pretoria: Protea Boekhuis, 2015, p 32). Tog het mense soos Khan dit eerder teen die Afrikaners en Afrikaans as teen die Britte en Engels.]

Khan erken dat navorsing toon “how white students consistently outperform black students, regardless of the degree being pursued, the year of study or institution attended.” Hieruit volg nie waardering vir blankes se intellektuele vermoëns nie. Pleks daarvan kry wittes die skuld vir nie-wittes se akademiese wanprestasie. Die fout is glo by die “predominant university model.” Die aard van die universiteit maak glo van die nie-wit student ‘n “decontextualised learner … teaching and learning practices mostly favour white middle-class students from educated homes, who, because they are comfortable in this system, perform far better than mostly black, poorer students.” Hiervolgens lê die fout nie by die nie-wit studente nie, maar by die universiteit, die “system”, wat deur wittes ter benadeling van nie-wittes ontwerp is.

Volgens Khan sal die US as US nooit genoeg kan verander om hom en sy geesgenote tevrede te stel nie. Die US sal revolusionêr moet verander, dus iets anders as die US moet word. In hierdie transformasieproses sal dit waarskynlik ook iets anders as ‘n akademiese inrigting, ‘n universiteit,* word. “SU’s vision 2030 must produce real material and meaningful change in the immediate and short-term, otherwise it could meet the same fate as the NDP: rejection, rebellion and revolution by angry school students denied admission to university by dint of history, legacy and poverty; decontextualised teaching and learning models and continued racialised outcomes; and a frustrated and dispirited intellectual black middle class whose mobility is determined and defined by those who wrote and policed the old rules and are now tasked to script a transformation agenda and define performance regimes that have strayed from the founding missions and goals of a university and that they themselves would fall short off.” Die ironie is dat die “founding missions and goals” van die US onder meer is dat dit oorwegend ‘n Afrikaanse universiteit moet wees en bly. [* Pas is beweer dat die Universiteit Johannesburg pleks van ‘n universiteit “‘n pan-Afrika-sentrum vir kritiese intellektuele ondersoek” is (Netwerk24, 10 deser).]

Die De Villiers-US speel met vuur. Nie net word destruktiewe magte op die kampus losgelaat nie, hulle word aktief deur die bestuur aangemoedig. Die gevolge kan/gaan akademies vernietigend wees. In vergelyking daarmee het Anton Stander die US nie werklik benadeel nie.

Comments

12 responses to “Leon Lemmer: Stellenbosch as ‘n bron van sin en onsin”

  1. Kassie Avatar
    Kassie

    Ek gebruik maar die opskrif van die bydrae deur mnr. Lemmer as afskop vir ‘n stukkie komentaar:
    Stellenbosch as ‘n bron van sin en onsin.
    ‘n Mens moet sekerlik nie jou politieke teenstanders en die vyande van die Afrikanervolk onderskat nie, maar ek glo tog die volk- en kultuurstryders sal hulle self ‘n guns doen deur meer dikwels die toestand in die vyandelike kamp te oorweeg.
    My indruk is dit gaan sleg daar en dat daar naarstig rondgeskarrel word na enigiets om aan te val, die “ou hande” wat of reeds geval het of hulle onder die sand in die loopgrawe probeer toegooi om van goed-gemikte skote soos dié van mnr. Lemmer weg te probeer kom. Een van die gevolge: die sin en die onsin waarna in die opskrif verwys.
    Die Wit liberalis se grootste probleem is die verskriklike spotspul wat die NSA geword het en die vernietigingswerk wat Zuma en kie besig is om aan te rig aan die Mandelatopia wat net in hul drome bestaan het. (En die NSA se eige lokomotief-ontwerper Mtimkoeloe se lokomotiewe is al weer op pad om nog ‘n NSA-stopblok op die rangeerwerf plat te jaag.)
    Dis in hierdie omstandighede dat die anargis Antjie Krog haar buiging ‘n week of wat gelede gemaak het.
    Dis of sy nie ‘n taamlik onlangse vermaning oor die dronkgestrompel van die liberales se debat deur Tim du Plessis gehoor het nie
    “Die kampe in Suid-Afrika se rasdebatte is soos twee dronkies wat mekaar nodig het om regop te bly, elkeen te dronk om alleen te loop.”
    Vanoggend gee Naspers se ander onvergeetlike liberale ghoeroe Max du Preez, op sy beurt weer raad: Blindweg kla ná 21 j. onvanpas.

    Ek het ongelukkig nie toegang tot die Naspers-webwerf nie, so ek sal gelukkig nie kan sê watse oop-oë-klagtes Du Preez voorlê nie. En of hy splinternuwe oogklappe vir sy volgelinge aanbeveel nie.

    1. leonlemmer Avatar
      leonlemmer

      Du Preez steun Krog se onlangse uitlatings. Nie een van die twee sal egter opoffer wat Krog van ander verwag nie.

      1. Kassie Avatar
        Kassie

        Ek het gemerk dat Tim du Plessis ook die stomme Krog se planne steun. Sien Du Plessis se artikel in laas Sondag se Rapport.

    2. jan Avatar
      jan

      Ja wragtag Kassie:

      Ek het al dikwels gewonder wat in mense se koppe aangaan om dan te ontdek dat daar absoluut NIKS aangaan nie. Die ‘verskriklike leegheid” waarvan van Nietzche ook geweeklaag het – die leegheid van sy Godverlatenheid.

      Want slegs God gee inhoud aan die lewe. [ lig , gravitasie, hitte, [= energie] , kennis van goed en kwaad, liefde]

      Dis goed dat die lot hulself openbaar vir wat hulle werklik is: – hulle spreek en DOEN ‘n oordeel oor hulself.

      Maar natuurlik in Tsafendastan se Pratt-Park is hulle die ikone en edole in Naarpers

  2. RSA PATRIOT Avatar
    RSA PATRIOT

    Ek sê steeds – ons verg ‘n beweging by US om linkse liberaliste, marxiste en anti-Afrikaans te neutraliseer! Ten minste onder die studente. Dan onder die SR, en dan onder die personeel. Makliker gesê as gedaan? Nie regtig nie as ‘n mens kyk hoeveel potensiaal daar by US is en hoeveel Afrikaanse studente keelvol is vir die ontmagtiging van hul taal, maar te bang is om iets te sê. Al wat hulle kort, is ‘n klein hupstootjie, oftewel ‘n indikasie dat hulle nie vervolg sal word nie.

  3. Karel Combrinck Avatar
    Karel Combrinck

    “Dit lyk asof die besef groei dat alles nie wel aan die Universiteit van Stellenbosch is nie”. Dis verblydend om dit te verneem, maar liewe vader, hoe lank neem dit dan vir mense om dinge te besef?

    1. Dolk Avatar
      Dolk

      Karel Combrinck: “hoe lank neem dit dan vir mense om dinge te besef?”

      Totdat mense besef het dat ‘n aap nie gekom het om mielies – nog die pitte daarvan te saai (het) nie…

  4. Henrietta Avatar
    Henrietta

    Trappe van vergelyking: sin, onsin, WAANSIN…

    1. Dolk Avatar
      Dolk

      Sin, sinvol, logika.

      Onsin, waansin, Afrikaan-logika.

  5. Dolk Avatar
    Dolk

    “Leon Lemmer: Stellenbosch as ‘n bron van sin en onsin.”

    Kon ook lees: “Leon Lemmer: Stellenbosch as ‘n bron van sinnelose onsin.”

    Of…: “Leon Lemmer: Stellenbosch as ‘n bron van sondig teen wat sin maak en wat onsin is.”

  6. jan Avatar
    jan

    Kulturele Marxisme beleef ons sedert Verwoerd se moord.

    Dis die in-ploffing / devolusie van die Christelike beskawing Oor 40 jaar het ons agteruit geboer pleks van die evolusionêre ontwikkelling van Verwoerd se veelvolkige demokrasie.

    Soos wat tipies met Marxisme gebeur word die staat soos ‘n magtige leer wat nêrens besonder op pad is nie maar slegs gedurig besig is met sy eie ongevalle.

    En soos wanneer ‘n goeie staatsmasjien wat mooi op al die silinders geloop het terwyl die welvaart – ‘ olie’ mooi na al die onderdele versprei. gaan staan. Dan graviteer die welvaart – olie na die sakke van die skurke en maghebbers wie meestal die dieselfde mense is. Dit het 40 jaar geneem..

    Kyk hoe Putin uit hierdie tronk na 70 jaar ontsnap…… Deur al hul heiligdomme te restoureer, Deur Christelike Feminisme en Christelike etiek en deur weer te leer lag.

  7. Rooikop Avatar
    Rooikop

    “Die aard van die universiteit maak glo van die nie-wit student ‘n “decontextualised learner … teaching and learning practices mostly favour white middle-class students from educated homes, who, because they are comfortable in this system, perform far better than mostly black, poorer students.” Hiervolgens lê die fout nie by die nie-wit studente nie, maar by die universiteit, die “system”, wat deur wittes ter benadeling van nie-wittes ontwerp is.”

    In die VSA het hulle as ek reg onthou in die 50s ‘n eksperiment gedoen – iemand het gesien dat kinders wat uit huise kom waar daar baie boeke was, beter op skool universiteit ens gedoen het as diegene waar daar nie baie boeke was nie. Hulle het toe ‘n stelsel begin waar daar gratis aan kinders boeke voorsien is om te lees – dit het die kinders se eiendom geword, nie net ‘n leenstelsel soos ‘n biblioteek nie. Na ‘n tyd is die effek hiervan gemeet. Dit het GEEN verskil aan die kinders se uitslae gehad nie. Die uitende hiervan was dat die rede hoekom die kinders met “baie boeke in die huis” beter gevaar het was omdat die ouers in die huis die boeke gelees het. Daar was dus ‘n leer kultuur in daardie huise en daarom het die kinders beter gevaar. (HIerdie studie was onder blankes gedoen).

    Daar is ‘n rede hoekom die blanke middelklas kind dan beter vaar – hy kom uit ‘n leerkultuur. In hierdie land is die leerkultuur onder die ander volke afgebreek, nie deur blankes nie maar deur ‘n ANC wat “liberation before education” gepredik het. ‘n Leerkultuur word oor geslagte heen gevestig, dit gebeur nie oornag nie.
    Universiteit was ook nog altyd ekslusief. Nog altyd duur – dit is uit die aard van wat daar gebeur. Moeilike ding word daar geleer en bestudeer. Om dit te doen kos geld, baie geld. Dit is juis net die beste van die beste en die rykstes wat daar kan studeer. As die argumente wat hulle aanvoer dan nou vir almal moet geld hoekom word ek nie ‘n plek in die ZA rugbyspan gegee nie (Dis maklik – ek is te stadig, het geen balvermoëns nie, ens ens ens). Sport word gereserveer vir die bestes van die bestes maar die res moet vir elke jan rap en sy maat oopgestel word omdat dit nou kwansuis “elitist” is. Natuurlik is dit uitsluitend en dit hoort ook so. ‘n Skrander persoon behoort wel ‘n beurs en/of lening te kan bekom om te studeer.

    Oor Rhodes: Hy was nie net ‘n rassis nie maar iets veel ergers – hy het alles gehaat wat nie-Engels was nie. Hy het swartes se vee laat doodmaak en ook hulle gesaaides afgebrand om hulle te verslaaf – hulle moes vir hongerloon werk in sy myne om te oorleef. Hy het dieselfde gevoel oor Afrikaners en ek is seker so ook oor ander Europese nasies.

Leave a Reply