Universiteit Stellenbosch: Oplaas ‘n werklik sinvolle brief

Deel op

Iemand het uiteindelik daarin geslaag om ‘n werklik sinvolle brief oor die toestand aan die Universiteit Stellenbosch (US) in Die Burger (25 deser, p 8) gepubliseer te kry. Taalrealis van Stellenbosch skryf soos volg – ek haal die brief in sy geheel aan:

“Volgens ‘n senior akademiese bestuurder aan die US geniet die beweging Open Stellenbosch die steun van ‘hoogstens 100 studente’ op die US-kampus met sy 11 000 studente. Dit beteken dat dié beweging, wat minder as 1% van die studentekorps verteenwoordig (en gelei word deur beeldestormers en drekgooiers ingevoer vanaf die Universiteit van Kaapstad se kampus), die hele US as gyselaar aanhou, met Afrikaans as losprys.

“Ek glo ek verwoord die mening van heelwat meer as 1% van die huidige US-studentekorps. Dus eis ons dat:

● Engels nie gebruik sal word as uitsluitingsmeganisme aan die US nie;

● Engels nie beskou word as die Heilige Graal vir die ontsluiting van en toegang tot kennis nie;

● alle voorgraadse lesings teen 2016 in Afrikaans beskikbaar sal wees;*

● die mislukte T-opsie [gesamentlike klasse met sowel Afrikaans as Engels as onderrigtaal], wat deur ‘n vorige kanselier as ‘pedagogiese onsin’ beskryf is, afgeskaf word;

● waar die T-opsie nog tussentyds gebruik word, verseker word dat minstens 50% van die aanbieding in Afrikaans sal geskied;

● waar lesings in Engels aangebied word, intydse tolking na Afrikaans beskikbaar sal wees;

● alle kommunikasie van die bestuur, personeel en in die onderskeie US-departemente, asook alle webwerwe, in Afrikaans beskikbaar moet wees;

● alle toets- en eksamenvraestelle in Afrikaans beskikbaar moet wees en studente vraestelle in Afrikaans moet kan beantwoord;**

● alle kennisgewings in Afrikaans beskikbaar moet wees; en

● die viserektor (leer en onderrig) amptelik verskoning vra vir sy verklaring dat die US nie langer ‘n Afrikaanse universiteit is nie, en die stelling terugtrek.***

“Bostaande eise is in ooreenstemming met die US-raad se taalbeleid en -plan en die Grondwet.”

* Dit behoort ook vir nagraadse lesings te geld.

** Afrikaanssprekendes word benadeel as die dosent nie Afrikaans magtig is nie.

*** Ek hoop om teen die einde van hierdie week oor hierdie en ander onlangse gebeure aan die US te berig.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.