Egipte het in September verlede jaar aangekondig dat hy sy kernprogram sal hervat, nadat dit vir 20 jaar opgeskort was. Dié land beoog om ten minste een kernsentrale teen 2020 in werking te kan hê.
Die verdagte is op 18 Februarie in hegtenis geneem op die lughawe van Kaïro nadat hy teruggekeer het van Hong Kong. Hy het daarna die Ier as Brian Peter en die Japanner as Shiro Aizo geïdentifiseer, volgens die prokureur-generaal.
Mahmoed is in 2005 in Hong Kong deur die Ier en Japanner genader en versoek om inligting aangaande die werksaamhede van die Egiptiese Kernkragkommissie aan hulle te verskaf.
Daarna het Mahmoed verslae uit die navorsingsentrum van Inchass, die Kommissie se kantore waar hy werksaam was, laat verdwyn. Die Prokureur vir Staatsekuriteit, Hicham Badaoui, wat ook teenwoordig was by die perskonferensie, het dit bevestig.
Die ambassades van Ierland en Japan in Kaïro was gister nog nie bewus van die inhegtenisname nie en kon geen inligting aangaande hul landsgenote bevestig of ontken nie.
Israel het by monde van hul diplomatieke verteenwoordiger die bestaan van ‘n spioenasienetwerk ten sterkste ontken. Mark Regev, Israelse buitelandse woordvoerder, het gesê dat daar dikwels sulke verhale sonder bewyse in die Egiptiese hoofstad opduik.
Benny Sharoni het namens die Israelse ambassade gesê dat sy missie niks anders weet as wat in die pers verskyn het nie en dat die Egiptiese owerhede nog geen amptelike korrespondensie betreffende die saak aan Israel gerig het nie.
Egipte was in die tagtigerjare op die punt om ‘n kernkragsentrale van 1 000 megawatt in Dabaa, oos van Alexandrië, op te rig toe die ontploffing in Tsjernobil in 1986 die projek op die lange baan geskuif het.
Intussen het Egipte voortgegaan met navorsing op die gebied van verrykte uraan en in 1997 het ‘n 22 megawatt-reaktor noord van Kaïro die lig gesien. Die reaktor voorsien geen elektrisiteit nie en is slegs op die ontleding van kernkrag gemik. Dit is met die hulp van die Argentynse liggaam INVAP opgerig.
