Deelnemers aan die program moet hulle werksvisums ingee, asook hulle werkspermitte, en dan mag hulle ook nie binne drie jaar na Spanje terugkeer nie.
In ruil daarvoor kry hulle 40 % van hulle werkloosheidsvoordele in een bedrag, voordat hulle vertrek en die uitstaande 60 % as hulle in hul tuislande aangekom het.
Dit is ‘n geskatte gemiddelde bedrag van net meer as 40 000 dollar in totaal.
Dié maatreël is een om te probeer om Spanje se werkloosheidsprobleem hok te slaan. Met die werkloosheidskoers wat op ‘n 15-jaarhoogtepunt staan van 11,3 %, voel die land se 4 miljoen immigrante die knyp aan die sak ernstig.
Werkloosheid onder die groep het gestyg met 67,1 % teenoor 2007. Tussen April en Augustus hierdie jaar het die hoeveelheid immigrante wat werkloosheidsvoordele ontvang, gestyg van 165 217 tot 280 298.
Die plan van vrywillige terugkeer verteenwoordig ook ‘n verandering in Spanje se voorheen sagte immigrasiebeleid. Drie jaar nadat werk en verblyfspermitte aan 750 000 mense uitgereik is, het eerste minister Jose Rodriguez Zapatero dit in die openbaar gestel dat hy die Europese unie se kontroversiële beleid van terugkeer ondersteun.
Die beleid laat toe dat onwettige immigrante vir tot 18 maande in aanhouding mag bly. Sy regering begin ook nou om meer hulpbronne daaraan toe te sê om bote vol onwettige immigrante te keer voordat hulle aan Spanje se kus kan land. Hulle kyk ook na strenger wetgewing om ouers en hul kinders onder die ouderdom van 18 weer saam te voeg. (Tans laat die wet toe dat grootouers en skoonouers ook by hulle families mag kom aansluit.)
Politici reageer op publieke stemme, het Federico Winer gesê. Winer is ‘n joernalis wat artikels oor immigrasie skryf vir ‘n aanlynkoerant wat gemik is op Spanje se Latyns-Amerikaanse gemeenskap. Volgens hom dui die mense al hoe meer aan dat die grense nou gesluit moet word.
“Tot onlangs, terwyl die ekonomie ‘n bloeitydperk beleef het, was immigrante die oplossing,” het Kamal Ramhouni, president van die vereniging van Marokkaanse Immigrantewerkers in Spanje gesê. Volgens hom is dit asof daar nou gesê word dat immigrante die probleem is. Die Plan vertel vir die samelewing dat immigrante die oorsaak is van die ekonomiese krisis.
Ecuadoriaanse burgers maak die tweedegrootste groep immigrante in Spanje uit, maar sover het slegs 186 mense van die groep gesê dat hulle sal teruggaan na hul tuisland. Marokkane, wat die grootste groep immigrante in Spanje uitmaak, is self nog maar versigtig. In ‘n opname wat gehou is, het slegs 8 % gesê dat hulle hul visums sal ingee en terugkeer na Marokko.
Daar is ‘n ander belangrike punt ter sprake, en dit is die rede hoekom die mense in die eerste plek na Spanje gekom het.
“Ek het gekom vir ‘n beter lewe, en ek het dit, voedsel, klere, ‘n woonstel, dit is alles beter hier as wat dit in Bolivia was,” het Cadena, ‘n immigrant, gesê. “Ek stel nie belang om terug te gaan nie,” het hy verder bygevoeg.
