Senator Barack Obama het Sondag 'n verdere hupstoot gekry met die aankondiging van Colin Powell dat hy die eerste swart presidentskandidaat gaan steun. Obama se veldtogfinansies vir September toon intussen boonop 'n reusevoorsprong bo dié van Senator McCain. Obama het reeds meer as $600 miljoen ingesamel, 'n nuwe kerf vir die VSA se presidentskandidate.
Obama het met $150 miljoen dollar in fondsinsameling vir verlede maand byna twee keer soveel bymekaargemaak as in Augustus. Hy gaan met dié geld glo die Republikeine in state soos Wes-Virginië aanvat, waar konserwatiewe waardes tradisioneel koning kraai. Vir die volgende twee weke gaan hy ook Colorado, Florida, Iowa, Nevada, New Mexico en Ohio aanpak, almal deelstate waar Bush steun geniet.
Colin Powell, 'n Republikein wat die eerste Golfoorlog in Irak gelei het, het met sy aankondiging vir Obama as 'n "transformasiefiguur" beskryf. Die eertydse generaal Powell het met dié belangrike stap bedenkinge oor die bekwaamheid van Obama geneutraliseer.
Die Londense Financial Times het 'n meningsartikel geplaas waarin 'n Obamapresidentskap beskryf word as 'n manier om Amerikaanse sogenaamde "soft power" in die wêreld te herstel.
Powell se aankondiging wat hy op NBC gemaak het, het McCain se veldtog groot skade berokken. Een van die punte van kritiek teen Obama uit die Republikeinse kamp was sy "sosialistiese" neigings, maar die swart senator het Sondag daarop geantwoord en gesê met Warren Buffet en Colin Powell as ondersteuners, kan daar nie sprake wees van sosialisme nie.
домики для детейФильчаков прокурор харькова