praag.co.za

Moenie Afrikaans die skuld gee

Written by

in

,

Op bladsy 6 van ​Die Burger van 3 Maart word prof. Wannie Carstens aangehaal as sou hy gesê het: “Ons moenie vergeet dat Afrikaans baie foute in die verlede gemaak het nie.”

Ek hoop van ganser harte dat hy verkeerd aangehaal is of dat dit nie is wat hy eintlik wou sê nie. As dit egter korrek is dat hy dit gesê het, moet ek, met alle respek aan my vriend en oud-Taalkommissie-kollega, sê dat dit die louterste onsin is. Die taal Afrikaans kan nie “foute maak” nie.

Dit is juis sulke stellings – veral komende van iemand wat vanweë sy (in die berig genoemde) verbintenis met die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat reeds meer as ’n eeu lank Afrikaans bevorder en help standaardiseer, en vanweë sy publikasies, hoogleraarskap en gereelde radio-onderhoude deur ’n groot deel van die Afrikaanssprekende gemeenskap waarskynlik as ’n gesaghebbende beskou word – wat meehelp dat die “gemeenskap . . . sy vertroue in die taal verloor het”.

As ’n mens so ’n beskuldiging wil maak, moet jy die baba op sy naam noem. Sê dan dat dit die SA Akademie deur sy optrede of sy Taalkommissie deur sy wyse van standaardisering van die ortografie van Afrikaans in die 10 verskene uitgawes van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls was. Of dalk was dit die taalstryders van ouds, of die eertydse NP, of die destydse Afrikaner-Broederbond of al die wit Afrikaanssprekendes wat al die vermeende foute gemaak het. Of die FAK of die ATKV of woordeboekmakers of terminologieskeppers. Wie ook al die foute sou gemaak het waarna die polities korrekte vingers deesdae so dikwels gewys word, noem hulle, maar moenie die taal die sondaar maak nie. Of was dit altemit Engels wat die vroue en kinders en bejaardes (van watter ras ook al) tydens die ABO in die konsentrasiekampe laat sterf het? Of Duits wat die Sjoa gepleeg het? Of Frans wat in die Napoleontiese oorloë Rusland binnegeval het? Of Arabies wat gyselaars onthoof?

Dit is tog onsin. Dit is mense wat ’n bepaalde lewensbeskouing het of ’n bepaalde beleid aanhang of bepaalde doelstellings het en toevallig ’n taal soos Afrikaans, Engels, Duits, Frans of wat ook al praat wat die “foute maak”. En dalk maak hulle foute in of met of ten opsigte van die taal, maar dit is gewis nie die taal se foute nie.

Gelukkig weet ek dat Carstens waarskynlik nie bedoel het wat hy glo gesê het nie; maar mense met sy agtergrond moet hul woorde dalk ’n bie­tjie beter tel. Afrikaans as volwaardige kultuurtaal is onder genoeg druk om nog die skuld gegee te word vir foute wat mense wie se (moeder)taal dit is, dalk gemaak het.

Tom McLachlan, Onrusrivier

McLachlan is ‘n vorige ondervoorsitter van die Akademie se Taalkommissie

Comments

14 responses to “Moenie Afrikaans die skuld gee”

  1. common-tator Avatar
    common-tator

    Dit is natuurlik so dat algemeen gesproke diegene wat in ‘n tale-rigting studeer het, meermale genoodsaak was om dit as ‘n vakrigting te kies omdat hulle nie die mas in die meer veeleisende studievelde kon opkom nie. Dit is op dieselfde basis dat die dom seun maar op die plaas gebly het termyl die slimmer kind gaan studeer het.

      1. 11petrus2 Avatar
        11petrus2

        Eina 2!

    1. Betzie van Rensburg Avatar
      Betzie van Rensburg

      Die ‘ dom seun op die plaas ‘ sit darem dikwels indirek die kos op die slim seun se tafel .
      Slim seun hou dikwels nie van grond aan sy hande nie en sweet liewer in die gim terwyl die lugreëling sy kantoor snoesig hou .

      1. common-tator Avatar
        common-tator

        Die arme meisiekinders het natuurlik nie eers in die prentjie ingekom nie – waarskynlik, steeds nie. In elk geval, enigeen wat wil boer, MOET onnosel wees.

        1. Kaylee van Yken Avatar
          Kaylee van Yken

          E I N A

          1. common-tator Avatar
            common-tator

            Vir wat dit werd is: Ek boer.

          2. Kaylee van Yken Avatar
            Kaylee van Yken

            Vir wat dit werd is: Ek het oneindig baie respek vir ons boere en ‘n BAIE sagte plekkie vir elkeen van julle.

          3. Betzie van Rensburg Avatar
            Betzie van Rensburg

            Ek was n
            juffrou ‘ .

        2. Rooikop Avatar
          Rooikop

          Ek wil graag boer! Dit maak my seker dubbelonnosel.

    2. Betzie van Rensburg Avatar
      Betzie van Rensburg

      Wat tale betref . Op universiteit is daar dikwels ook neergesien op die onderwys studie rigtings . In der waarheid is n onderwyser met integriteit en grondige vakkennis net so waardevol as bv. n mediese dokter in die samelewing .

      1. common-tator Avatar
        common-tator

        ‘n Onderwyser is ‘n grootmens tussen kinders en ‘n kind tussen grootmense lol. Laat my ook dink aan wat hulle sê van ‘n plaasbestuurder met 10 jaar se ondervinding: ‘n Man met een jaar se ondervinding, tien keer oor. Personeelbestuurders pas ook êrens in die prentjie van swaksinniges met kwalifikasies. Nou het ek waarskynlik omtrent almal beledig ;-D

        1. Betzie van Rensburg Avatar
          Betzie van Rensburg

          Ek glimlag oor jou skrywe .

  2. Kalium_Chloraat Avatar
    Kalium_Chloraat

    Dis reg Tom, die kakademikus prof. Wannie Carstens antropomorfiseer die taal. Hy praat dus onbegrensde snert wanneer hy so ‘n sinnelose uitspraak maak. Ek wonder of hy dit waarlik glo en of hy hiermee sy aandele by die betalers van sy salaris wil laat styg. Ons volk is werklik soos in Jesaja 3 waar seuns ons vorste is en moedswilliges oor ons heers. Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ‘n dwaalweg gemaak. Dis die voormanne wat hierdie dinge doen, die huidige bestel vergoed verraad en die swaksinniges, die met lae moreel en die Mammonaanbidders tou agter die goddeloses aan. Hierdie prof en sy soort moet Jesaja 3 klaar lees, Al die versierings en weelde sal weggevat word en die lekker geur sal muf word. Ons vriend Max het mos ook onlangs geruik hoe die lieflike geur skielik verslaan.

Leave a Reply