Afrikaners moet deelneem aan straatnaamproses

Die Vryheidsfront Plus het 'n oproep op inwoners van Pretoria gedoen om in groot getalle by die openbare deelnameproses oor die verandering van 27 straatname in Pretoria betrokke te raak.

Die VF Plus het ook 'n beroep gedoen op alle organisasies wat besorg is oor onverantwoordelike naamveranderinge om aktief aan die openbare deelnameproses  deel te neem. Sulke organisasies sluit in burgerlike drukgroepe soos AfriForum en Praag, asook kultuurorganisasies soos die FAK, ATKV en die Afrikanerbond.

Die stadsraad het bekendgemaak dat daar op Dinsdag 7 Oktober om 18:00 ‘n openbare deelnamevergadering in die East Lynn-gemeenskapsaal sal plaasvind. Nog ‘n vergadering is gereël vir Donderdag 9 Oktober om 18:00 in die Centurion Raadsaal.

Volgens Mnr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid en lid van die raad se komitee vir plek- en straatname, gebruik die ANC-beheerde raad hierdie tipe vergaderings om kwessies deur te druk.

Die Munisipale Strukturewet vereis dat openbare konsultasie moet plaasvind wanneer die raad besluite neem wat inwoners raak.

Volgens die VF Plus verwelkom die ANC dit as min mense by sulke vergaderings opdaag en min weerstand bied.   Die ANC gebruik dan sulke vergaderings om te sê hulle het die wet nagekom in terme van publieke deelname.

"'n Vergadering wat deur 'n massa beswaarde inwoners bygewoon word sal die speelveld egter totaal verander. Dit maak dit uiters moeilik vir die ANC om die proses dan te stoomroller en steeds binne die wet te bly", het Beyers gesê.

Volgens Beyers kom die verandering van 27 straatname, wat hoofsaaklik na historiese Afrikaner-figure vernoem is, op kulturele sabotasie neer.  Die publiek behoort dit op alle fronte teen te staan.

насосАлександр Фильчаков Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae