Nobelprys vir fisika aan LED-uitvinders

Twee Japannese en ‘n Japannese Amerikaner het die Nobelprys vir fisika vir 2014 losgeslaan met hul uitvinding van ’n blou liggewende diode (LED) – die deurbraak wat nodig was om wit LED-lampe te kan maak.

Isamu Akasaki en Hiroshi Amano van Japan en Shuji Nakamura van Amerika se deurbraak “sal waarskynlik daartoe lei dat die 21ste eeu deur LED-lampe verlig word nadat die 20ste eeu deur gloeilampe verlig is”, het die Koninklike Sweedse Wetenskapakademie gesê.

Die drie uitvinders deel die prysgeld van $1,1 miljoen.

“Rooi en groen LED-lampe is al lank beskikbaar, maar blou het ontbreek. Danksy die blou LED kan wit lampe nou vervaardig word wat besonder energiedoeltreffend is en lank hou,” het Per Delsing, ’n lid van die akademie, op ’n nuuskonferensie gesê.

Akasaki is verbonde aan die Meijo-universiteit in Japan en Amano is ’n professor aan die Nagoya-universiteit. Nakamura is aan die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara verbonde.

Nakamura is die eintlike brein agter die blou LED. Hy was in diens van die onderneming Nichia, wat hom nie veel vir sy uitvinding wou gee nie. Hy het Nichia toe vir $185 miljoen gedagvaar en uiteindelik $8 miljoen aanvaar.

LED-lampe is aansienlik doeltreffender as die gloeilamp wat deur Joseph Swan en Thomas Edison aan die einde van die 19de eeu ontwikkel is.

Colin Humphreys, ’n LED-kenner verbonde aan die Universiteit van Cambridge, het gesê die ligbron het inslag gevind in die motorbedryf en dit word ook in slimfone en rekenaarskerms gebruik.

3 thoughts on “Nobelprys vir fisika aan LED-uitvinders”

  1. Vir baie jare was net rooi, groen en oranje LEDs beskikbaar. Die eerste blou LEDs was ook maar goor om mee te werk. Deesdae is al wat ‘n liggie op ‘n stuk elektronika is egter blou – ‘n bewys van voortuigang maar verskriklik irriterend – juis a.g.v. die golflengte van hierdie blou liggie (meeste so 450nm). In lae lig toestande, skuif die mens se visie nader na die blou kant van die spectrum, m.a.w. jou oë is meer sensitief vir blou. Met die blou LEDs wat nou in motorradios en ook op die nuwerwetse polisievoertuie gebruik word is dan geneig om mens te verblind. As hulle net die golflengte so effens verander om dit bietjie nader aan groen te skuif (so tussen 470nm en 500nm) dan is die verblindings effek heelwat minder maar dit is uiters moeilik om sulke LEDs te maak en dus is hulle skaars en duur.

Maak 'n opvolg-bydrae