Boer wat stropers se lyke verbrand na 10 jaar gevonnis

’n Boer wat die lyke van twee stropers verbrand het, is Woensdag tot twee jaar tronkstraf gevonnis.

Die 59-jarige Douw de Beer se seun het op 22 April 2004 die twee wilddiewe doodgeskiet nadat hulle op hom losgebrand het.

Die saak teen die De Beers het tien jaar gesloer.

Regter Winston Msimeki het De Beer in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria  gevonnis weens regsverydeling omdat hy die lyke van die twee swartes, Morris Morua (36) en Zacharia Leso (35) op sy wildsplaas, Deo Gloria naby Boschhoek in Noordwes, verbrand het.

De Beer se seun Dylan (26) is tot ses maande tronkstraf of met R2 000 beboet omdat hy een van die mans se selfone gesteel het.

Msimeki het Douw en sy seun se aansoek tot verlof tot appèl geweier.

Dylan, ’n veearts, was 16 jaar oud toe hy die twee swartes doodgeskiet het.

Dylan is in 2013 vrygespreek op aanklag van moord omdat hy uit selfverdediging opgetree het. Die stropers het op hom geskiet.

Hy het in ’n pleitverduideliking gesê hy het met ’n .308-geweer in die veld gestap om ’n rooibok te skiet.

Daar is op hom geskiet en hy het teruggeskiet.

Dit het gelyk of dieselfde koeël albei getref het. Die twee stropers het reg agter mekaar gelê.

13 thoughts on “Boer wat stropers se lyke verbrand na 10 jaar gevonnis”

  1. My eerlike mening, ek glo nie dit was reg om die dooies te verbrand nie, MAAR, ek verstaan PRESIES waarom die vader dit gedoen het. Trots op die seun dat hy homself kon verdedig – dit was of sy lewe, of die stropers.

    Zwei fliegen mit einer klappe schlagen.

    Dan redeneer ek weer so by myself, wat van die bejaarde dame wat verlede week op die toneel gesterf het na sy met ‘n strykyster in haar gesig gebrand is en met ‘n hamer oor die kop geslaan is.

    1. Niks regverdig geweld nie wanneer dit alleen staan nie. Geweld word met geweld beantwoord. Ek stem ook saam dat dit nie nodig was om die lyke te verbrand nie. Ons weet natuurlik nie in watter emosionele toestand die pa op daardie stadium was nie.
      Gedurende oorloë is daar die neiging onder soldate om kosbaarhede van lyke af te steel, soos hangertjies en horlosies ens. Dit bly egter diefstal al is die persoon dood, punt. Geen argumente rondom dit nie, en word jy gevang moet jy verwag om die “gelag te betaal”.

    2. Enigste rede hoekom ek met jou saamstem dat hulle nie moes verbrand word nie is leeus en hienas en ander wild eet nie gaar vleis nie! So daar is ‘n paar diere ontneem van ‘n heerlike maal! Die arme boer het eerste gedink WAT HIERDIE REGSTELSEL van ons aan sy arme seun gaan doen. Kyk die Waterkloof 4 as voorbeeld! GEEN GENADE, geen versagtende omstandighede!.

  2. ‘n Lyk voel geen pyn nie… Roep nie om hulp nie. Kan nie ‘n selfoon saamneem Hel toe nie…

    Die krioelende, gulsige maaiers ken geen onderskeid, nog die brommers wat vrolik eiers om hulle lê nie.

    Dat hulle, die barbaarse moordenaars veras(???) was sonder hulle goedkeuring, is die verloop van omstandighede…. Maar eintlik HULLE eie plan gewees.

    Sal ek iets voel vir die oorskot van my eie familie se moordenaars…? Dis PRESIES waarop dit neerkom – sou hulle in hul barbaarse, gewetenlose boosheid geslaag het… Nee, dis te goedhartig – ek sou hulle gelos het dat die hyenas, jakkalse en die aasvoëls aan hulle kom vreet het – selfs die miskruiers en maaiers sou gejubel het…

    Sou die wind die kroesie-tolbossies in die vier windrigtings verstrooi het… Die maan stil na die verdorde beendere getuur het en, die geitjies in die winterson daarop, mekaar speels gekoggel het…

    Dis, dus alles oordink en gesê – sonder dat my hart enigsins verhard was, nog geword het.

      1. Ek het weer en weer Dolk se skrywe gelees, en te midde van die onreg hierdie boer aangedoen, moes ek telkens glimlag vir Dolk se puik manier van hoe hy homself uitdruk !

        * verskroeide snoete
        * selfs die miskruiers en maaiers sou gejubel het
        * kroesie-tolbossies

        Dit is net doodeenvoudig … ANDERS en ek is gaande daaroor !

    1. Dis, dus alles oordink en gesê – sonder dat my hart enigsins verhard was, nog geword het.

      Jou skrywe verteenwoordig jou bitter hart Dolk. Moenie toelaat dat jou HAAT teenoor hierdie mense, die LIEFDE wat jy in jou dra vernietig nie !

Maak 'n opvolg-bydrae