
deur Leon Lemmer
Op die webwerf van die Universiteit Stellenbosch (US) is daar tans drie berigte wat sprekend dui op die toestand wat daar heers.
Die rektor, Russel Botman, het op 8 deser die Islamia College besoek om studente uit sy voorkeurgroep, die bruines, te werf. Die berig is op sowel die Engelse as Afrikaanse US-webtuiste in Engels gepubliseer, met die belofte dat ‘n Afrikaanse vertaling mettertyd sal volg. Dit toon duidelik wat die etniese en taalvoorkeur van die Botman-US is.
Op 8 deser het Botman en die burgemeester van Stellenbosch, mede-bruine Conrad Sidego, ‘n veiligheidsooreenkoms gesluit. Daarvolgens sal die universiteit en die munisipaliteit saamwerk op die gebied van bv kringtelevisie om ‘n “misdaadvrye dorp” te probeer skep. Wat nie gesê word nie, is dat misdaad op Stellenbosch sedert die aanvang van Botman se rektorskap in 2007 epidemiese afmetings aangeneem het. Daarvoor is daar myns insiens veral drie redes: (1) die toename in swart US-studente, soos belowe in Botman se intreerede as rektor, (2) die verswarting van die dorp, ooreenkomstig die wens wat Botman in sy intreerede as rektor uitgespreek het, en (3) die agteruitgang van wet en orde sedert 1990/1994 ooreenkomstig die geweldstradisie van die ANC, waartoe Botman ‘n tasbare bydrae gelewer het deur bv in 1976 onrus en verwoesting op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland te saai.
Botman loop oor van entoesiasme vir studente wat sedert 1994 gebore is. Hy noem hulle “vrygeborenes.” As DA-politikus het Sidego vir die enigste ligpunt in hierdie berig gesorg deur op te merk dat ons nog nie vry ten opsigte van veiligheid is nie. Botman, daarenteen, sal fanaties voortgaan om te beweer dat ons sedert 1994 uitermate vry is. As ANC-aktivis sal hy nie ‘n geleentheid laat verbygaan om sy posisie aan die US ten bate van die ANC se program te misbruik nie.
Soos verwag kon word, gaan die US op 14 en 15 deser ons “demokrasie en vryheid” vier. Daar is deesdae ‘n spesiale afdeling, die Sentrum vir Inklusiwiteit, wat voltyds gedwonge rasse-integrasie aan die US bevorder. Hierdie elemente sien in hierdie dwang tot integrasie geen teenspraak met vryheid nie. Die feesprogram ter viering van twintig jaar van demokrasie en vryheid is, indien nie deur Botman geïnisieer nie, sekerlik deur hom goedgekeur.
As akademiese inrigting is ‘n universiteit veronderstel om sy studente aan verskillende standpunte bloot te stel, bv om nie ‘n bepaalde ideologie eensydig aan hulle op te dring nie. Dit sou immers in sigself ‘n verkragting van vryheid, naamlik vryheid van denke, wees. Kom ons kyk in watter mate die program wat die US aanbied aan die vereiste van sodanige ewewig voldoen.
Eerstens is daar ‘n uitstalling van verbode boeke; werke wat die Nasionale Party-regering verbied het. Daar is geen sprake van dat inligting wat deur die ANC-regering weerhou word, bv oor die ANC se misdade, terrorisme, martelkampe, Nkandla, ens, ter wille van ewewig terselfdertyd toegelig word nie.
Tweedens is daar ‘n museumuitstalling genaamd “Dear Mr Mandela, Dear Mrs Parks.” Die titel spreek eintlik vanself. Die Mandela waarna verwys word, is ons eie Nelson Mandela wat op grond van sy gedrag op al ons geldnote afgebeeld word. Die Parks waarna verwys word, is Rosa Parks (1913-2005) wat te hardegat was om haar sitplek op ‘n bus aan ‘n blanke af te staan. Op grond hiervan is sy in die VSA tot ‘n mitiese heldin in die burgerregtebeweging verhef. Geen poging word deur die Botman-US aangewend om Mandela/Parks met ander standpunte te balanseer nie.
Derdens word ‘n filmfees aangebied. Die volgende vier rolprente is met voorbedagte rade uitgesoek:
- Mandela: Long Walk to Freedom, gebaseer op Nelson Mandela se sogenaamde outobiografie, wat in werklikheid die maaksel van en ‘n halografie deur die joernalis Richard Stengel is.
- 12 Years a Slave, die aangedikte en gedramatiseerde storie van Solomon Northrup se slaafskap in Amerika. Botman sal nooit moeg daarvoor word om by implikasie hedendaagse plaaslike blankes vir die slawerny van eeue gelede te verwyt nie.
- Endgame. die oud-Broederbonder en verloopte Afrikaner, Willie Esterhuyse, se geheul namens die NP-regering met die ANC, wat die ondergang van die blanke bewind ingelui het.
- Bloody Miracle, die uitbeelding van geweld deur wit ekstremiste, bv by monde van Eugene de Kock, en deur Inkatha in die aanloop tot die ANC-magsoorname – dus die “wonder” van die “vreedsame” oorgang na die nuwe Suid-Afrika. Die geweldadige misdaad en terrorisme van die ANC en PAC wat oor dekades strek, word sover moontlik onderspeel.
Oor sowel die Botman/Sidego-ooreenkoms as die US-vryheidsviering het daar ook in Die Burger (12 deser, onderskeidelik p 7 en 4) ‘n berig verskyn. As ANC-aktivis vaar Botman uitstekend. As rektor en akademikus vaar hy pateties omdat hy met ANC-ideologie gepreokkupeer is. Sy politiek word eensydig aan die studente en personeel opgedring. Die vraag is: Waarom word dit toegelaat? Intern sal daar ‘n kentering moet kom as die US in meer as naam ‘n akademiese inrigting wil wees.
Daar is geen moontlikheid dat Botman die beeld van bv Jan van Riebeeck, Paul Kruger of staatshoofde soos DF Malan, Hans Strijdom, Hendrik Verwoerd of PW Botha sal bevorder nie. Die jongste transformasieset is dat daar glo ook duidelik sigbare of visuele transformasie op die kampus moet wees. Wat Botman en kie hinder, is bv dat van die US se grootste en belangrikste byeenkomste in ‘n lokaal gehou word wat DF Malan se naam dra. ‘n Sentrum met ‘n naam soos Nelson Mandela, Chris Hani of Steve Biko sal Botman nie pla nie en sekerlik hartlik deur hom verwelkom word.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.