Sy beroemdste roman is 'n Dag in die lewe van Iwan Denisowitsj, wat in 1962 verskyn het en waarin hy die tipiese ervaring van iemand in 'n Sowjetarbeidskamp skilder. Hy het self agt jaar in strafkampe deurgebring omdat hy 'n brief aan 'n vriend geskryf het waarin hy kritiek teen die Sowjetdiktator, Josef Stalin, uitgespreek het.
Solsjenitsin het wêreldberoemd geword nadat sy boek Die Goelag-argipel in Rusland verbied is. In 1974 is hy sy burgerskap ontneem en gedwing om as balling na die Weste te gaan. Hy het hom in die VSA gevestig en in 1994 na Rusland teruggekeer.
