Misdaad: ‘n Boer maak ‘n plan

ImageToespraak gelewer by ‘n PRAAG-vergadering oor misdaad in die NG Kerksaal, Lynnwood, Pretoria op 10 Maart 2007, saam met Steve Hofmeyr, TLU-veiligheid en ander belanghebbendes

Dames en here, mede-Afrikaners,

Daar gaan nie ‘n dag verby dat ons nie gruverhale in die koerante lees oor die vlaag misdaad wat die land teister nie. Trouens, “misdaad” het ‘n versamelnaam geword vir die patologiese toestand waarin ons land verkeer. Ons kan dit net sowel oorlog of anargie noem, want nóg die oorlog in Irak nóg die konflik tussen Israeli’s en Palestyne eis soveel slagoffers soos ‘n gewone dag in Suid-Afrika.

Ons mooi land het die swaargewigmisdaadkampioen van die wêreld geword. Die ergste is: niemand in gesagsposisies en veral nie die kamma-regering van die ANC wat polisiehoofde soos Jackie Selebi en Robert McBride insluit, ervaar dit as ‘n skande nie. Inteendeel, nou onlangs het Selebi homself op die skouer geklop dat hy die beste polisiemag ter wêreld het! Hy het sommer ‘n vriend by Interpol gekry om dit te sê ook.

Hierdie ding wat hulle misdaad noem, en wat toenemend meer soos ‘n lae-graadse burgeroorlog lyk, om nou nou dr. Bertie du Plessis se term te gebruik, raak ons almal. Man, vrou en kind word voor die voet aangeval, beroof, verkrag, vermoor. Die polisie of die weermag bied ons geen beskerming nie. Vele van ons betaal ten duurste vir privaatveiligheidsdienste. Volgens dr. Henri Boshoff van die Instituut vir Sekerheidstudies bestee die inwoners van die voorstede wat veronderstel is om deur die Brooklyn-polisiestasie beskerm te word, nege miljoen rand per maand aan privaatveiligheidsdienste. Maar as die koeëls begin klap, dan hardloop baie van hierdie veiligheidswagte eerste weg of kruip hulle in hul hokkies of onder hul lessenaars weg.

Suid-Afrika het drie keer meer privaatveiligheidsbeamptes as polisiemanne. Sommige prys dit aan as ‘n wonderlike voorbeeld van die mark wat reageer op ‘n behoefte wat deur die staat se versuim om ons te beskerm, geskep is. Maar as hulle so doeltreffend was, waarom vrees ons dan nog?

Die tema van hierdie vergadering is “Genoeg!” Ons hoop dat hierdie slagspreuk deur elke inwoner van die land opgeneem sal word, maar veral ook deur elke Afrikaner. Ek gesels nou onlangs met een van ons opposisieleiers wat meen dat Suid-Afrika net sal regkom die dag as Afrikaner-breinkrag weer op alle vlakke van regering verteenwoordig is. As ons egter wag tot daardie dag, mag ons almal uitgemoor wees. Daarom moet ons hier en nou verantwoordelikheid vir ons eie veiligheid neem. Ons moet beheer van ons woonbuurte terugneem van die moordenaars en die rowers wat tans in die strate koning kraai.

Hoeveel minagting ons ook al het vir die LUR vir veiligheid in hierdie provinsie, Firoz Cachalia, met sy politieke speletjies, help dit nie om ons daaroor te verknies nie. Cachalia het mos belowe om oor ses maande te bedank as hy nie misdaad beduidend sou laat verminder nie. Ses maande het gekom en gegaan en agterna was hy verbaas dat enigeen nog kon onthou wat hy gesê het. Sy leë gebaar nou onlangs om die ouers van die vermoorde dogtertjie Sheldean Human voor die TV-kameras te besoek, is tekenend van sy sinisme. Terwyl die lyke opgestapel word, is Cachalia, soos Selebi en daardie grootste nar van almal, Charles Nqakula, besig met politieke speletjies.

Maar ons het oorgenoeg hiervan gehad. Ons het geen vertroue meer in Mbeki, sy bewind en sy amptenare nie.

Verskeie kere in die geskiedenis was ons al by so ‘n krisis waar die Britse koloniale staat in die negentiende eeu nie ons veiligheid kon verseker nie of waar die Voortrekkers ‘n toestand van burgeroorlog en anargie in die binneland aangetref het tydens die Mfekane. Wat is misdaad anders as ‘n hedendaagse Mfekane? Ons voorouers het toe saamgestaan, hulle het kommando’s gevorm en hulle het hulself begin beskerm en sommer ook die orde rondom hulle herstel. Sodoende is hierdie staat, Suid-Afrika, met sy reëls en sy wette, aan die woesteny ontruk.

Soveel mense oor die afgelope jaar het al vir my gesê: die geskiedenis is besig om homself te herhaal. Wat ons nou beleef, het ons al ‘n hele paar keer vantevore ervaar: aan die Oosgrens in die vroeë 1800’s en tydens die moorde by Bloukrans en Weenen op 17 Februarie 1838 toe 500 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, op die wreedste wyse uitgemoor is. Tydens en net na die Tweede Vryheidsoorlog was daar weer anargie en net na die Tweede Wêreldoorlog het wanordelike swart verstedeliking in Sophiatown en elders insgelyks ‘n misdaadprobleem geskep wat destyds opgelos moes word.

Ek glo dat die geskiedenis hom ook in ‘n positiewe sin sal herhaal: as die krisis groot genoeg is, kom ons volk bymekaar en laat hulle geskille en verskille daar om die onmiddellike probleem aan te pak. Ons het dit in die verlede gedoen. Ons kan dit weer doen.

Die hele doel van hierdie vergadering is juis om die vele selfbeskermingsinisiatiewe wat reeds bestaan, onder almal se aandag te bring. As ons egter daarin wil slaag om die foneokrasie oftwel “moordenaarsregering” waaronder ons gebuk gaan, te stuit, het ons groter onderlinge samewerking en koördinasie nodig. Daar is soveel wonderlike inisiatiewe regoor die land reeds aan die gang: mense wat hul tyd en geld en hul gesinslewe opoffer om hul bure te beveilig. Ons gaan nou-nou hoor hoe die buurtwag op Louis Trichardt hul misdaad binne vier maande met 95% laat daal het, hoe die TLU-Veiligheid reeds meer as 2000 boere en stedelinge in huis-en-haardbeveiliging opgelei het en ook patrollies in landelike gebiede doen. Hier is ‘n baie aktiewe Praaglid, mnr. Seef le Roux, wat oor die afgelope weke ‘n buurtwag in die Faerie Glen-omgewing gestig het en reeds, sover ek verstaan, begin patrollie ry het.

Daar is nog vele ander mense hier teenwoordig wat netnou tydens die besprekingsessie met ons gaan deel waarmee hulle besig is.

Ek verstout my om te sê dat daar reeds ‘n hele veiligheidsbeweging onder Afrikaners aan die gang is en wat ons hoop vir die toekoms gee. As ons met mekaar kan begin saamwerk, met al die gesofistikeerde kommunikasietegnologie wat vandag tot ons beskikking is, kan ons binne enkele maande selfs begin om die misdaadsituasie in bepaalde gebiede te stabiliseer. Mnr. Anton Barnard van Praag sal aanstons vir ons verduidelik hoe die Burgerwag-sms-stelsel werk en watter moontlikhede dit aan ons bied, hetsy in noodsituasies, hetsy om akkurater misdaadstatistiek op te stel sodat probleemareas geïdentifiseer kan word.

Ten slotte, jare gelede het ek ‘n Fransman ontmoet met wie ek sedertdien bevriend geraak het. Die heel eerste sin wat hy in Afrikaans geleer het, was: ‘n Boer maak ‘n plan. Dis ‘n eenvoudige spreekwoord en al amper ‘n gemeenplaas. Maar as ons kyk na wat ons volk hier in Afrika op alle gebiede binne so ‘n kort tydjie vermag het, hierdie ongelooflike land wat ons binne ‘n eeu so te sê uit niks uit opgebou het, dan wéét ek diep binne in my dat ons die misdaadprobleem kán aanpak en kán oplos.

Wat die frase ook vir my sê, is: die Afrikaner is ‘n praktiese mens. Ons kan nie vir altyd protesteer of ons met groot ideologiese slagspreuke vermaak totdat daar naderhand, soos in Zimbabwe, niks meer oor is nie.

‘n Boer maak ‘n plan. Kom ons sorg dat ons vandag, voor ons huistoe gaan, gestalte gee aan daardie plan. Dit hoef nie die héle plan te wees nie. Maar dit moet ten minste genoeg inhoud hê om aan die spreekwoord te voldoen. Want die omgekeerde is sekerlik ook waar: ‘n Boer sónder ‘n plan is geen Boer nie.

Wat genoeg is, is genoeg! Ons gaan nie langer misdaad vat nie. Kom ons begin nou werk aan daardie plan.

генератор 30 квт арендаФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae