Volgens mnr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid in die Tshwane metroraad, het die plaaslike ANC inwoners mislei deur met groot fanfare aan te kondig dat die Samwu-staking die afgelope Maandag verby sou wees en dat dinge hierdie week tot normaal sou terugkeer.
"Die stinkende vullisberge in Pretoria se strate begin nou net soos die vullishope van Napels in Italië lyk. In Italië het Eerste Minister Sylvio Berlusconi spesiale maatreël getref om die vulliskrisis in Napels te help oplos.
Vroeër het die VF Plus-raadslid, kol. Piet Uys, daarop gewys dat die Noodtoestand Bestuurswet `n munisipaliteit verplig om, wanneer `n noodtoestand dreig, die nodige stappe te doen om die probleem aan te spreek.
Die wet maak onder andere daarvoor voorsiening dat die stadsraad fondse, personeel, toerusting en enige ander bronne mag aanwend om 'n krisis aan te spreek. Dit sluit in die aanstelling van tydelike personeel en aanwending van private instansies. Dit gee byvoorbeeld die mag aan die stadsraad om die metro-polisie en ander noodwerkers tydelik in te roep om die probleem te help oplos.
Die VF Plus het gesê dat enige verdere versuim deur die ANC om alternatiewe reëlings vir vullisverwydering te tref, tot 'n ramp in die stad kan lei. "Die feit dat die ANC passief toekyk hoe die probleem vererger, het veroorsaak dat 'n probleem wat op 'n baie vroeër stadium opgelos kon word tot 'n ernstige krisis gelei het. Hierdie is die swakste stadsadministrasie in Pretoria se geskiedenis", het Beyers bygevoeg.
