Een van die kenmerke van kommunistiese denke is dat hierdie intellektuele geen vier- of vyfjaar mentaliteit het, wat met elke verkiesing moontlik die mag kan verloor nie. Hulle beplan sisteme jare vooraf, dekades selfs, manipuleer uitkomste, herskryf die geskiedenis en sorg dat hulle op een of ander manier altyd die botoon sal voer. Die belangrikste spelers in die SAKP het al dekades gelede geweet dat die ANC nie in staat is om te regeer nie, maar het hulle gebruik as middel om self aan die mag te kom. Verlede jaar was daar planne in Ronnie Kasrils se kantoor gevind waarin hy die ANC wou omverwerp, net soos wat die kommuniste geprobeer het om Pol Pot omver te werp toe sy terreur nie langer weggesteek kon word nie.
’n Kenner van kommunisme, Erik van Ree, stel dat anders as die Nazi’s, wat uitwissing as doelstelling gehad het, het die kommuniste terreur as doelstelling gehad. Vandaar dat kommunisme waarskynlik nie met dieselfde hoon bejeen word as Nazisme nie. Egter, die Franse skrywer André Gide het sowel Nazi-Duitsland as stalinistiese Rusland besoek en gestel dat van hierdie twee gruwelsisteme Nazi-Duitsland effens beter is, aangesien niks en niemand in die Sowjet-Unie van terreur gevrywaar is nie, selfs nie eens kleuters of hoogbejaardes nie.
Iets wat nie baie aandag geniet het nie, is die terreur in die Baltiese state sedert die Oktoberrewolusie. Sowjettroepe het byvoorbeeld in die dorp Kautla in Esland almal wat hulle kon vang doodgemartel, waarvan die jongste twee maande oud was en die oudste 78 jaar. Die taktieke wat Stalin gebruik het om die Baltiese state te infiltreer lyk verdag baie soos die taktieke wat die ANC/SAKP gebruik om hul hegemonie in Suid-Afrika te verstewig. In die begin het die kommuniste onafhanklikheid gewaarborg aan die Balte, maar agter die skerms het hulle landkaarte gedruk waarin hierdie lande as Sowjetlande voorgestel word (vergelyk Tshwane en OR Tambo lughawe). Met verloop van tyd het die kommuniste die staatsapparaat geïnfiltreer, maar op ’n subtiele manier sodat dit nie sou opval nie. Origens is daar ’n jong man in Esland gewees wat sy eie dagboek aangehou het oor die terreur, soortgelyk aan dié van Anne Frank, maar vir onbekende redes het die Westerse skrywers en media hier nie enige aandag aan bestee nie.
Dit is nogal merkwaardig dat ’n wêrelddeel wat soveel ellende onder die Nazi’s en kommuniste meegemaak het soveel kommunisgesindes in Suid-Afrika opgelewer het. Die mees fanatieke kommuniste en Afrikanerhaters in Suid-Afrika is afkomstig uit die Baltiese state, waarvan baie se voorsate die terreur van kommunisme juis ontvlug het.
Egter, as ons wil weet wat die denkwyse van Marxiste is, is dit ’n goeie idee om hul filosofiese uitgangspunte te verstaan. Wat die filosofiese (Hegeliaanse dialektiek) sy van Marxisme aanbetref, word veronderstel dat alles in terme van wetenskap verklaar kan word. Wetenskap is met ander woorde die hoogste soektog na waarheid. Volgens hierdie denksisteem is daar drie basiese natuurwette te bespeur:
i) Die wet van teenoorgesteldes: Marx en Engels het gestel dat alles in die heelal in terme van teenoorgesteldes werk, en alle vorme van beweging ontstaan uit die wisselwerking van teenoorgestelde kragte. Dink byvoorbeeld aan atome, met positief-gelaaide protone in die kern en negatief-gelaaide elektrone wat daaromheen wentel, of sterre wat ’n sterk aantrekkingskrag het maar vanwee die hitte weer ’n afstotende werking het teen sy aantrekkingskrag in.
ii) Die wet van negering. Met hierdie wet word veronderstel dat vernietiging op een vlak lewe gee op ’n ander. Sodra een orde uitgedien is, baan dit die weg vir ’n ander orde, soos wat ’n veldbrand veroorsaak dat nuwe plante weer kan begin groei. In sosiale terme beteken dit ook dat sosiale ordes val en oor begin. Die Industriële Rewolusie het ’n einde gemaak aan die mag van die adel, deurdat die bourgeoisie hul setel ingeneem het, maar het tegelykertyd die proletariaat laat ontstaan. Op hul beurt sal die proletariaat die bourgeoisie weer omverwerp. Ongetwyfeld is Ronnie Kasrils se lofsang om blankes te vermoor op dieselfde beginsel geskoei as hierdie wet van negering. Dit is die vervanging van ordes, word beskou as ’n onafwendbare natuurlike proses. Vandaar dat dit weinig opspraak maak, dink ek.
iii) Die wet van transformasie: Die ontstaan van kwaliteit uit kwantiteit, of andersom, is die basisaanname van hierdie wet. Soos wat die aantal mense meer word, verhoog dit die kans dat beter tegnologie die mensdom in ’n nuwe rigting stuur, en met die ontstaan van nuwe tegnologie, kan dit ’n groter aantal mense akkomodeer. Dink byvoorbeeld aan nuwe tegnologie om landbou te bevorder, waarmee sodoende meer mense kan eet en die bevolking kwantitatief vermeerder.
Sedert Marx en Engels is hierdie wette verder ontwikkel en uitgebrei, en Mao het ook ’n hele manifes saamgestel oor die aard van vernuwing en teenoorgesteldes. Die skrywers van die boek Mao: The unknown story, Jung Chang en Jon Halliday, vermeld dat Mao ’n obsessie gehad het met vernietiging om sodoende ’n nuwe orde op die been te bring, en anders as die verromantiseerde beeld van kommunisme in die Weste het Mao gestel dat kommunisme nie liefde is nie, maar ’n hamer is om die vyand mee te verslaan.
Interessant genoeg is ’n bekende spreuk van Mao:”Alle reaksionêre is ’n papiertier”. Vanweë die moeilikheid wat teenrewolusionêre organisasies ervaar om die ANC/SAKP hegemonie hok te slaan, skuil daar ’n duidelike element van waarheid hierin. Ek dink op grond hiervan dat die SAKP meer begeesterd is oor Mao as oor die Europese Marxiste.
Soos Van Ree geskryf het, was die groot kommunistiese leiers eerder skurke as digters gewees, en het menselewens verspil omdat hulle kon. Hul state was hul historiese toneelstuk gewees en die miljoene mense wat omgekom het, gewone vervangbare wesens. Dit lyk nogal bekend as ’n mens Suid-Afrika in gedagte hou. Selfs diegene wat die terreur ervaar het en vas geglo het in die ideale van kommunisme, het die tot die gevolgtrekking gekom dat die terreur teen die vyand goed is, maar dat hulle af en toe die fout maak deur goeie mense ook per ongeluk bloot te stel. Op so ’n manier skep hulle politieke klimate waarin alles vir hulle geoorloof is.
Soos wat kommunisme in Rusland geval het en die Russies-Ortodokse geloof weer begin kop uitsteek het na sewentig jaar van verdrukking is ’n bewys van die hardnekkigheid van onvervreembare tradisies en gelowe. Slegs vasberadenheid is die oplossing teen hierdie groep skurke wat alles wil vernietig, sogenaamd omdat dit ’n “natuurlike” verloop van sake is. Die gevoel van apatie of goedgelowigheid wat by blankes voorkom is hul beste wapen.
In die woorde van die Romeinse geskiedkundige Tacitus: ” ’n Slegte vrede is nog erger as oorlog.”
Hoe waar!
