Maj. Sagir Musa, ’n woordvoerder vir die weermag, het gesê die kapers eis sowat $250 000 (ongeveer R1.9 miljoen) vir die vrylating van die boot en bemanning. Onder die bemanning is een Portugees en een Oekraïner.
Die boot, wat gebruik word om die olie-infrastruktuur in Afrika se grootste vervaardiger van petroleum in stand te hou, is Dinsdag gekaap, het Musa gesê. Hy het bygevoeg teen Woensdag was die situasie in die suidelike Niger-delta nog nie opgeklaar nie, maar het nie nog besonderhede gegee nie.
Verskeie gewapende militante en misdadige groepe swerf rond in die uitgestreke deltastreek vol inhamme, moerasse en riviere, maar met min paaie. Militante blaas gereeld olie-infrastruktuur op of val veiligheidsmagte aan om groter inkomste van die oliebedryf vir hul verarmde streek te eis.
Maar misdadigheid hou baie nou verband met militantheid en die meeste gewapende groepe word daarvan verdink dat hulle ru-olie van pyplyne steel om dit oorsee te verkoop – dikwels met die hulp van korrupte staatsamptenare.
Seerowery, wat in die breë verwys na enige misdaad op water, is ook aan die toeneem en Nigerië se kusgebied het nou die meeste seerowers ter wêreld.
Nigerië is die grootste olievervaardiger in Afrika, maar aanhoudende bomaanvalle op pyplyne en ander aanvalle het produksie met byna ’n kwart laat daal. Dit het die prys van ru-olie op internasionale markte tot die hoogste nóg laat styg.
