Mandela-verjaarsdag moet rasse-onmin wêreldwyd besweer

Die Verenigde Nasies neem vandag die voortou om oudpresident Nelson Mandela saam met miljoene Suid-Afrikaners en wêreldburgers met sy 95ste verjaardag geluk te wens.

Die wêreldliggaam het in 2009 18 Julie as Internasionale Mandeladag verklaar. Ledestate van die VN sal later vandag hulde aan Mandela bring tydens ‘n spesiale informele sitting van die algemene vergadering in New York.

Mandela se vriend en medegevangene op Robbeneiland, Andrew Mlangeni, wat gister in New York aangekom het, sal hulde aan die voormalige president te bring.

Die Amerikaanse oud-president Bill Clinton en musikant en maatskaplike aktivis Harry Belafonte sal ook toesprake lewer. In Washington sal kongresleiers op Capitol Hill die huldeblyke van minstens 15 Amerikaanse stede voorhou.

In Suid-Afrika sal leerders regoor die land vanoggend hulde aan Mandela bring. Die meer as 12 miljoen skoliere sal vanoggend tydens saalopening ‘n verjaardaglied vir Mandela sing.

Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga sê die gesamentlike verjaardaglied word om kart voor agt vanoggend gesing.

President Jacob Zuma het vroeër mense gevra om te onthou om 67 minute van hul tyd aan liefdadigheid af te staan.

Mandela vier vandag sy 95ste verjaardag in die Mediclinic Harthospitaal in Pretoria waar sy toestand steeds kritiek maar bestendig is.

Maak 'n opvolg-bydrae