Die polisie moet ongeveer R40 miljoen aan ‘n Britse maatskappy oorbetaal nadat geld wat by ‘n polisiestasie gehou is, gesteel is.
“Die SAPD is van voorneme om aan die hofbevel te voldoen. Daar moet egter daarop gelet word dat die SAPD aansoek gedoen het om teen sekere dele van die uitspraak te appelleer,” het lt.genl. Solomon Makgale, woordvoerder van die polisie, aan die Sunday Times gesê.
Makgale het gesê hulle wag steeds op ‘n datum vir die appèl. Die bevel is vroeër vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg gemaak ná ‘n rooftog by die OR Tambo-lughawe in 2006.
Ses mans is in 2012 daaraan skuldig bevind dat hulle ‘n besending banknote ter waarde van R100 miljoen gesteel het van ‘n vliegtuig wat vanaf Londen in Johannesburg geland het.
Die rowers is vasgetrek en die geld is teruggevind. Die geld is na die Benoni-polisiestasie geneem waar dit in ‘n kluis gehou is. R14 miljoen daarvan is egter gesteel.
Regter Nigel Willis het bevind dat die diefstal van die geld ‘n “fopinbraak” was.
“Dit is duidelik dat die geld slegs deur polisiebeamptes geneem kon word. Toegang tot die kluis kon slegs verkry word deur die kennis van polisiebeamptes.”
Nathi Mthethwa, minister van polisie, is gevolglik beveel om R40 miljoen te betaal. Die bedrag sluit sewe jaar se rente en regskostes in.
Die hof het verder beveel dat Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, weer moet kyk na ‘n ondersoek waar drie polisiebeamptes aanvanklik geskors en van die diefstal aangekla is maar die aanklagte teen hulle later teruggetrek is.
