DA gaan glo EFF teen ANC befonds

Die DA gaan help om die EFF te befonds. Raadslede van die regerende party wat die burgemeester in Tlokwe ontsetel het, het City Press berig, is ook ondersteuners van Julius Malema se nuwe politieke groepering.

Annette Combrink van die DA is intussen herkies as burgemeester na die afsetting van die ANC se Maphetle Maphetle.

Haar terugkeer is grootliks te danke aan die ANC se eie raadslede wat onder mekaar baklei.

‘n Groep van 16 ANC-raadslede is aanvanklik geskors nadat ‘n mosie van wantroue met opposisiepartye teen Maphetle in November geslaag het. Die ANC se NUK het tussenbeide getree en Maphetle is drie maande later weer herstel.

Maar toe die raadslede ontdek dat die ANC van plan is om hulle te dissiplineer, ten spyte van beloftes om dit nie te doen nie, het hulle weer teen Maphetle gestem. Nou is 14 van die raadslede afgedank deur die ANC.

Nege van hulle wil ​​as onafhanklike kandidate in die tussenverkiesings staan en die DA is glo bereid om hulle te befonds.

Die raadslede is ook ondersteuners van die voormalige ANC Jeugliga-leier, Julius Malema se ekonomiese vryheidsvegters (EFF). Ten spyte daarvan sal die DA hul verkiesingsplakkate befonds.

Julius Malema gaan aanstons glo landwyd toer om ook ander ontnugterde ANC-ondersteuners vir sy Economic Freedom Fighters (EFF) te werf.

Sy eerste byeenkoms is Saterdag in Sasolburg, waar oproer reeds verskeie kere ferm polisie-optrede genoop het.

Die EFF sal in die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Noordwes ondersteuners mobiliseer in aanloop tot hul nasionale vergadering wat einde Julie in Soweto gehou word.

Die EFF sal die onstabiliteit in die mynsektor en die opstand in die ANC in Noordwes waar die DA weer die Tlok­we-munisipaliteit oorgeneem het weens binnegevegte onder ANC-raadslede, uitbuit en sal op die DA se ondersteuning in Potchefstroom kan staatmaak.

 

Maak 'n opvolg-bydrae