Die sanger Kurt Darren se broer, Darren van Heerden, het aan Huisgenoot gesê die sanger verduur baie pyn nadat hy in ‘n motorongeluk betrokke was. Die ongeluk het enkele kilometer van sy huis in Pretoria gebeur.
“Dit gaan goed met Kurt, maar hy het verskriklik pyn. Hy het vandag selfs meer pyn as gister,” het Darren gesê.
Kurt en twee vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was Sondagoggend in ‘n motorongeluk toe hulle met ‘n Toyota Fortuner in ‘n rivierbedding beland het. Kurt is per helikopter na die Milpark-hospitaal in Johannesburg geneem nadat daar aanvanklik vermoed is dat hy sy rug gebreek het.
Die gewilde sanger het agt ribbes gebreek en bloeding op sy longe opgedoen.
‘n Breinskandering sal op die sanger uitgevoer word nadat hy gekla het dat sy oë sukkel om te fokus.
Daar is aanduidings dat Darren waarskynlik ook ‘n hou teen die kop gekry, al is daar geen merk te sien nie.
“Kurt se oë trek skeef en ‘n neurochirurg het gevra dat breinskanderings gedoen word om die aard en tydsduur van die skade vas te stel.
Sy agent, Louis van Wyk het aangedui dat Darren se optredes vir ten minste ses weke afgestel sal moet word.
“Kurt het bloeding op sy longe. Hy gaan minstens ses weke buite aksie wees. Ons wag vir die mediese span om ons te adviseer oor hoe lank hy buite aksie sal wees.”
