Die tussentydse president van Egipte, Adly Mansour, het aangekondig dat parlementêre verkiesings vroeg aanstaande jaar gehou sal word.
Mansour het ‘n dekreet uitgevaardig waarvolgens ‘n paneel, wat die grondwet moet wysig, binne 15 dae gevorm moet word.
Die grondwetwysigings moet oor ‘n tydperk van vyf maande plaasvind. Die verkiesing word vir Februarie beplan, hoewel ‘n presiese datum nie bekendgemaak is nie. Voor die verkiesing kan plaasvind moet die Islamitiese grondwet van die uitgesette president Mohamed Morsi gewysig en in ‘n referendum bekragtig word.
Die aankondiging volg nadat 51 mense, waarvan die meeste ondersteuners van Morsi is, gister buite hul barakke doodgeskiet is.
Morsi is vermoedelik in die barakke in aanhouding.
