Mugabe is reg: Britte wil Zimbabwe kaap

ImageVan die begin af was ek nog baie skepties oor die hele veldtog wat daar in die Engelse media (sowel plaaslik as in Brittanje) teen Robert Mugabe van Zimbabwe gevoer word. Immers heers dieselfde of erger toestande in Suid-Afrika en daaroor swyg die Engelse soos die graf.

Om maar een statistiek te noem: slegs 11 blanke boere is in Zimbabwe vermoor terwyl die Suid-Afrikaanse totaal al oor die 2000 staan. Nóg die BBC nóg die Britse pers heg enige noemenswaardige belang hieraan, terwyl Mugabe daagliks verguis en Morgan Tsvangirai opgehemel word as die nuwe demokraties verkose leier van die land oorkant die Limpopo.

So twee jaar gelede het ek self deelgeneem aan ’n BBC-program oor Afrika wat hier in Johannesburg geskiet is. Ek is egter net een vraag gegun terwyl Morgan Tsvangirai een van vyf paneellede was wat deur die Britte in die kalklig geplaas is. Ook op die paneel was Barney Pityana, die huidige rektor van UNISA en voorstander van swart bewussyn.

Een van Tsvangirai se opmerkings het my veral bygebly: hy is ook ten gunste van grondhervorning en gaan nie die inheemse blanke boere se grond teruggee nie. Die vraag is nou: wat gaan nou eintlik in Zimbabwe verander indien Tsvangirai aan bewind kom?

Vir inheemse blankes in Suider-Afrika gaan ’n Tsvangiraibewind in Zimbabwe geen jota verskil maak nie. Aan die ander kant gaan Brittanje heelwat daarby baat. Eer ons vergeet: Brittanje het oorspronklik vir Robert Mugabe aan bewind geplaas en voer oor die afgelope 40 jaar of meer ’n anti-blanke, anti-Westerse beleid teenoor Suider-Afrika. Brittanje se steun vir sowel die ANC as ZANU PF het ’n revolusie in ons subkontinent veroorsaak wat reeds besig is om erger gevolge as ’n volskaalse oorlog te hê – met hongersnood, vlugtelinge, bevolkingsverskuiwings en selfs volksmoord op die Afrikaner.

Enigiets waarmee die siniese, Machiavelliaanse Britte vorendag kom, sou ek dus met ’n knippie sout neem. Agter die Britte se nuutgevonde kommer oor “demokrasie” skuil niks anders as geldgierigheid nie. Feit is dat Zimbabwiese bates tans teen ’n appel en ’n ei verhandel en daar is waarskynlik ’n hele horde Britse sakemanne wat staan en kwyl by die gedagte om die oorblywende myne en landbougrond in Zimbabwe na ’n bewindsverandering in die hande te kry.

Vir seker word Tsvangirai deur die Britte gefinansier. In die verarmde, hiperinflasionêre toestand waarin Zimbabwe tans vekeer, sou dit vir die opposisieleier onmoontlik wees om ’n noemenswaardige verkiesingsveldtog met eie fondse te voer. Daarom kan sy geld net van die Britse ambassade in Harare afkomstig wees. Brittanje is nou openlik besig om teen Mugabe te agiteer en het reeds die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies genader in sy pogings om van die ZANU PF-leier ontslae te raak.

Tsvangirai verteenwoordig die ideale Britse marionet: hy is finansieel afhanklik, dom en ongekunsteld. Sowel Anglo American as Barclays beskik steeds oor belange in Zimbabwe en onder ’n Tsvangiraibewind sou hulle die room van enige oplewing kon afskep. Zimbabwe het platinumneerslae en met die platinumprys op $2 000 per ons is enige platinummyn so goed soos om oor jou eie nasionale munt te beskik.

Al wat tussen Mugabe en sy uiteindelike ondergang staan, is die buitelandse valuta en ondersteuning wat hy van Sjina ontvang. Volgens die Londense Times, is Britse diplomate reeds op pad na Beijing om die Sjinese te oortuig om Mugabe in die rug te steek. Hulle wil veral die Sjinese verleentheid oor Tibet en slegte publisiteit rondom vanjaar se Olimpiese Spele in Beijing uitbuit om hulle te oortuig dat Mugabe vir vir Sjina net ’n meulsteen sou wees.

Wat die Afrikaner betref, het ons eintlik geen belang by Zimbabwe nie en kan dit ons nie skeel wie in daardie land aan bewind is nie. Dit is nou afgesien van enkele Afrikanerboere wat steeds in Zimbabwe vasgevang is en hul bes probeer om onder die omsgtandighede te oorleef. Trouens, ’n Tsvangirairegering in Zimbabwe kan vir ons sleg wees omdat dit sowel Britse invloed as die illusie van “demokrasie” in Suider-Afrika gaan versterk. Op die duur wil Brittanje met sy bondgenote in Suid-Afrika die Afrikaner finaal vernietig, hetsy deur ons landuit te verdryf, hetsy deur gelate te aanskou hoe ons deur geweld en volksmoord vergaan. Op sy beste wil Brittanje toesien dat die ANC ons taal, kultuur en instellings vernietig sodat ons op die duur deur die sogenaamde Suid-Afrikaners geassimileer word.

Hoe paradoksaal dit ook al mag klink, is ’n Mugabebewind in Zimbabwe vir ons tans verkieslik bo enige “regimeverandering” waaraan die Britte naarstiglik werk. Ek sou my verstout om te sê dat Afrikaners eintlik behoort te probeer om Mugabe aan bewind te hou volgens die oeroue beginsel wat die Britte so getrou toepas: my vyand se vyand is my vriend. Ons behoort enigiets te doen om ’n stok in die wiel van Britse planne te steek. Pleks dat die Britte finansiële voordeel put uit Zimbabwe se vernielde bates wat binnekort so te sê verniet uitgedeel gaan word, waarom kan ons nie daaruit voordeel trek deur toenadering tot Mugabe en ZANU PF te soek nie?

Afrikaners beskik oor die kundigheid om die mynbou en bankwese van Zimbabwe teen ’n goeie fooi te bestuur terwyl die besit daarvan volgens Afrikagebruik in die hande van die regerende elite bly. Die radikale revolusie wat Brittanje oor ons afgeroep het sedert hy met ekonomiese sanksies teen sowel die eertydse Rhodesië as Suid-Afrika begin het, was die mees absurde en onnadenkende inmenging en skending van nasionale soewereiniteit wat daar in onlangse tye plaasgevind het.

Dit mag vergesog klink vir Afrikaners om die Mugabe-bewind te hulp te snel, maar te midde van die grillige vernietiging wat die Engelse al jare lank op ons afdwing met hul steun vir radikale swart denke en bewegings in dié wêrelddeel, is ons genoodsaak om “buite die kassie” te begin dink.

укладка половой доски на фанеруДанильченко

Maak 'n opvolg-bydrae