Siriese president staan vas

Die Siriese president, Bashar al-Assad, het Sondag gesê hy gaan nie bedank voordat ‘n verkiesing gehou word nie.

Die president se uitlatings verwerp die opposisie se eis dat samesprekings om die burgeroorlog in die land te beëindig, tot sy bedanking sal lei.

Assad het se kommentaar aan die Argentynse koerant Clarin, was die eerste oor sy moontlike rol in enige politieke oorgang sedert die VSA en Rusland vroeër vandeesmaand ingestem het om die twee partye op ‘n internasionale konferensie bymekaar te bring. Dié vergadering sal na verwagting volgende maand gehou word, maar geen datum is nog vasgestel nie.

Nie Assad of die Siriese nasionale koalisie het aangedui dat hulle die vergadering sal bywoon nie.

Meer as 70 000 mense het reeds gesterf en miljoene ander is ontwortel sedert die opstand teen Assad in Maart 2011.

Assad het diegene wat hom wil ontsetel as “terroriste met buitelandse steun” bestempel.

In die onderhoud met die koerant het Assad homself vergelyk met die kaptein wat oor Sirië se onstuimige see vaar en sê “die land is in ‘n krisis en wanneer daar ‘n storm is, vlug die kaptein nie”.

“Die eerste ding wat hy gaan doen is om deur die storm te beweeg en die skip na veiligheid bring,” het Assad gesê.

“Ek is nie iemand wat van my verantwoordelikhede vlug nie.”

Die Siriese weermag het met ‘n offensief begin om beheer van die dorp Kuser in die weste van die land terug te wen. ‘n Lugaanval is geloods, en die regering sê hulle het reeds 70 rebelle-vegters gedood.

Die rebellemagte in die dorp is al vir ‘n paar weke omsingel en van die buitewêreld afgesny. Aktivisite het beeldmateriaal op die internet vrygestel wat wys dat die rebelle se veldklinieke oorval word met ongevalle, wat rebelle vegters en burgerlikes insluit.

Kuser is ‘n strategiese dorp omdat voorrade na en van Libanon, sowel as die Siriese kus daardeur gaan.

Maak 'n opvolg-bydrae