Daarom word daar onomwonde gesê dat ʼn reusehulppakket slegs aan Zimbabwe toegestaan sal word indien Mugabe nie meer president is nie. Indien ons vir ʼn oomblik kan vergeet dat Mugabe ʼn afstootlike swart diktator is (soos vele ander in Afrika wat nooit die nuus haal nie), kan mens wel vra: wat het van die soewereiniteitsbeginsel geword?
Hoe kan Brittanje aan die Zimbabwiese kieser voorskryf vir wie hy of sy behoort te stem? Oor die afgelope 28 jaar het die Zimbabwiërs aangehou om Mugabe fanaties te ondersteun al het hy die land en sy ekonomie stelselmatig geplunder en verwoes.
Te oordeel aan die omvang en organisasie van die MDC-veldtog, is dit duidelik dat daar buitelandse, spesifiek Britse, geld agter Tsvangirai moet wees. Immers is dit moeilik om te sien hoe enige opposisieparty in ʼn verarmde, de facto eenpartystaat soos Zimbabwe die nodige fondse kan bekom om ʼn noemenswaardige verkiesingsveldtog teen die staat self te voer.
Daar word openlik gepraat van ʼn “wortel” van een miljard pond (R15 miljard) in hulpgeld wat voor die Zimbabwiese kieser se neus gewaai word indien hy maar net “die regte ding doen” en van Mugabe ontslae raak. Te midde van al die bedwelmende beloftes van hulpgeld, word daar terloops ook genoem dat Zimbabwe rééds $350 miljoen per jaar aan hulp van die Weste en veral Brittanje ontvang.
Wat ek nog nooit kon verstaan nie, is die besware wat mense – die Britte inkluis – teen die destydse tuislande in Suid-Afrika gehad het. Wat is Zimbabwe anders as ʼn tuisland van Brittanje waar die regering en staatsbestel na willekeur van buite gemanipuleer word?
Eer ons vergeet, Mugabe sou nooit die bewind by Ian Smith oorgeneem het indien die hoogheilige Brittanje nie die voormalige Rhodesië geboikot en geondermyn het nie. Die wonderlike Robert Mugabe was die Britte se idee van ʼn goeie president vir Zimbabwe.
Watter astronomiese bedrae aan hulpgeld daar ook al na die verkiesing op Zimbabwe bestee gaan word, weet ons almal dat die werklike misdaad wat plaasgevind het – die etniese suiwering van die blanke Rhodesiërs – deur geen tribunaal gestraf gaan word nie. Nie net gaan Mugabe skotvry daarvan afkom nie, maar Tsvangirai het reeds gesê dat hy óók ʼn voorstander van “grondhervorming” is.
Mugabe se “grondhervorming” verteenwoordig sy onaantasbare nalatenskap. Nóg Brittanje, nóg ʼn MDC-regering gaan ʼn jota daaraan verander. Noudat die ANC in Suid-Afrika – nog ʼn resiesperd waarop Londen se koloniale wedders heelwat geld gewaag het – aanskou het hoe mens ʼn blanke minderheid sonder gevolge uit ʼn land kan suiwer, is dit net ʼn kwessie van tyd voordat dieselfde resep hier te lande toegepas gaan word. Hiervan getuig Lulu Xingwana se onheilspellende wysiging van die reeds Bolsjewistiese Grondonteieningswet.
Ook die hordes onwettige immigrante wat uit Zimbabwe na Suid-Afrika gevlug het, gaan nooit hul skrede huiswaarts wend nie. Ons sit met hulle opgeskeep en Brittanje gaan ons vir seker geen hulpgeld skenk om na hulle om te sien nie.
Hoe die landbou ooit in Zimbabwe op dreef gaan kom sonder om die plase aan hul voormalige blanke eienaars terug te gee, is moeilik om te sien. Daarom kan mens verwag dat Zimbabwe wat as Rhodesië destyds een van Afrika se suksesverhale was, maar net verder gaan voortploeter as ʼn misrabele, hulpafhanklike tuisland van Brittanje. Die ander hulpbehoewende tuislande in ons geweste is natuurlik Lesotho, Swaziland en Botswana.
Tussen die neo-koloniale meesters in Londen en die mags- en geldgierige “leiers” in Harare, sal die ramp wat die oud-Rhodesië geword het waarskynlik vir altyd voortduur.
Al sekerheid wat mens oor Zimbabwe het, is dat die jenewer en tonikum neffens Koningin Victoria se waterval altyd dieselfde sal smaak.

Met die Zimbabwiese parlementêre verkiesing agter die rug, kan mens reeds sekere waarnemings maak, selfs al is dit nog nie finaal seker of ons die laaste van Robert Mugabe gesien het nie.