OB gaan Capitec Bank se SEB-transaksie oopkrap

Die Openbare Beskermer (OB) het, na ‘n versoek deur die Vryheidsfront Plus, bevestig dat ‘n formele ondersoek gedoen sal word insake die swart ekonomiese bemagtigingstransaksie waardeur ‘n konsortium met noue bande met die ANC oënskynlik op ‘n onreëlmatige wyse ‘n aandeel ter waarde van nagenoeg R1 miljard in Capitec Bank bekom het. Die VF Plus het die OB in September 2012 gevra om vas te stel of staatsinstansies soos die PIC en IDC op enige wyse misbruik is deur ‘n aantal individue met noue bande met die ANC en wat fondse aan die ANC skenk, ten einde hulself te verryk. Dit is selfs moontlik dat winste uit die transaksie na die ANC self kon gevloei het.

“Die VF Plus is tevrede dat die Openbare Beskermer uiteindelik besluit het daar is meriete in die klag. Dit is van kardinale belang dat die belange van die ANC en sy vennote wat soos ‘n seekat sy tentakels orals in die fiskale trog het, ontbloot word,” het adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomiese sake, gesê. “Dit is veral ook belangrik dat die pensioengeld van die staatsdiensamptenary beskerm word aangesien die PIC belas is met die regte belegging van die fondse. Dit blyk egter of die PIC onreëlmatig aandele teen ‘n hoë prys kon aangekoop het en indien so, moet die transaksie gekanselleer word ten einde die staatsdienspensioenfonds se integriteit te waarborg.”

Volgens berigte in die Mail & Guardian op 28 September 2012 is hierdie SEB-transaksie moontlik gemaak deur finansiering van die Public Investment Corporation (PIC), wat ten doel het om staatsdienswerkers se pensioene te belê en die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IDC), wat gelas is om ekonomiese ontwikkeling in SA te verseker. Daar blyk moontlike begunstiging te wees deur die toetrede van hierdie twee openbare ondernemings in ‘n transaksie waar individue naby aan die ANC verryk is sonder dat hulle self ‘n enige waarde toegevoeg het.

Die OB is ook versoek om in haar ondersoek vas te stel of die breë-basis swart ekonomiese bemagtigingskodes (BBSEB) tydens die transaksie nagekom is, aangesien daar onsekerheid is oor wie die werklike aandeelhouers van Keabetsoe Holdings, wat aandele ter waarde van R303 miljoen deur die transaksie bekom het, is. “Dit is moontlik dat Capitec Bank op grond van ‘n wanvoorstelling aangaande wie die werklike aandeelhouers in Keanetsoe Holdings is die BBSEB-transaksie beklink het en dat baie min aandeelhouers uiteindelik voordeel gaan trek hieruit. Die BBSEB-kodes is egter juis daargestel om te verseker dat frontmaatskappye en –individue nie deur SEB-transaksies verryk word nie, maar dat dit bemagtiging op ‘n breë basis geskied,” het adv. Alberts bygevoeg.

Die VF Plus sien uit na die uitslag van die ondersoek en glo dat heelwat onreëlmatige verhoudinge en winste wat die ANC betrek hierdeur oopgevlek gaan word.

Лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae