Top-kundiges is glo ingespan om Oscar Pistorius se regspan by te staan, nadat ‘n moordklag teen die gestremde atleet gebring is.
Sunday Times berig dat ‘n patoloog, beeldpoetser en polisiedeskundiges die sportheld se prokureur, Kenny Oldwage, en senior advokaat, Barry Roux, sal bystaan.
Volgens die koerant is die patoloog dr. Reggie Perumal deel van die span.
Perumal was teenwoordig toe patoloë van die staat die nadoodse ondersoek op Reeva Steenkamp (29) uitgevoer het. Sy is op Valentynsdag in die atleet se huis doodgeskiet.
Oldwage het aan die koerant gesê die patoloog is aangestel om met ‘n privaat ondersoek na die voorval uit te help.
Stuart Higgins, beeldpoetser en voormalige redakteur van die Britse poniekoerant The Sun, is ook deel van die span.
Pistorius (26) sal na verwagting Dinsdag in Pretoria se landdroshof verskyn om aansoek om borgtog te doen.
Oldwage het aan Sunday Times gesê die span is gereed om aan die saak te werk.
“Dit gaan ‘n verskriklike lang en besige week vir ons almal wees,” het hy gesê.
Nie alleen Pistorius nie, maar Suid-Afrika se hele wit bevolking is egter reeds in die beskuldigde bank weens die wit “wapenkultuur” en ‘n vermeende wit voorliefde vir geweld volgens die Britse pers.
Dié skewe voorstelling kom ten spyte van die Britse beeldpoetsdeskundige se teenwoordigheid in Pistorius se span.
Eusebius McKaiser, by Wits se Sentrum vir Etiek in Johannesburg, meen die rasstereotipe van swart geweldenaars is deur die Pistorius-geval “vernietig”. Hy is deur die Guardian genader vir kommentaar.
McKaiser het gesê: “Dit vernietig die idee dat oortreders en slagoffers op ‘n sekere manier lyk, verpletter die oortuiging dat huishoudelike geweld uitsluitlik ‘n produk van armoede is.”
Die onmiddellike nasleep van die skietery was dat wittes die mislukking van die swart regering om misdaad aan te pak bekla omdat daar berig is dat Pistorius sy meisie vir ‘n inbreker aangesien het.
Danksy die berig is ‘n sentiment oorgedra dat Pistorius, soos vele ander wit inwoners, ook deurentyd onveilig gevoel het ten spyte daarvan dat hy in ‘n veiligheidskompleks gewoon het, ‘n luukse wat baie wittes egter nie kan bekostig nie.
Aanlynkommentaar van nuusbronne moes glo sluit weens die rassistiese menings wat ingestroom het, nadat Beeld berig het dat die atleet gedink het Reeva Steenkamp is ‘n inbreker.
Deur die klem na misdaad te verskuif, is die moontlikheid dat dit ‘n passiemoord kon gewees het, op die agtergrond geskuif.
Volgens die Britse pers, is sport steeds op ‘n rassegrondslag verdeel. Wittes maak slegs 9% van die bevolking uit, en volgens ‘n Britse verslaggewer is Pistorius se gewildheid in swart townships en dorpe nog nooit getoets nie.
