Trent Barcroft, hoof- uitvoerende beampte van die motorvervaardiger Daimler Chrysler, is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy tydens ‘n rooftog in Midrand geskiet is, het die polisie in Gauteng gesê.
Barcroft, ‘n Amerikaner, en sy vrou, Cathy, was Dinsdag op pad huis toe, toe die rowers hulle Dinsdag aangeval het, berig Eyewitness News.
Chrysler Suid-Afrika het gesê Barcroft en sy vrou is vermoedelik agtervolg nadat hulle gaan inkopies doen het.
‘n Voertuig het hulle van agter getref en toe Barcroft uit sy motor klim om besonderhede met die ander bestuurder uit te ruil, is hy in die maag geskiet.
Barcroft se horlosie, beursie en selfoon is gesteel.
“Hy was saam met sy vrou en sy is ongedeerd. Hy is in die maag geskiet. Die aanvallers het juwele, selfone en die vrou se handsak gesteel,” het kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, gesê.
Hy word in die intensiewe sorgeenheid van die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg behandel.
Chrysler Suid-Afrika het in ‘n verklaring gesê Barcroft sal na verwagting ten volle herstel.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Drie mense was betrokke in die aanval op Trent Barcroft, hoof- uitvoerende beampte van Chrysler Suid-Afrika, en sy vrou, Cathy, het die polisie in Gauteng Woensdag gesê.
Kapt. Kym Cloete, polisiewoordvoerder, het gesê die aanval het Saterdag omstreeks 14:45 plaasgevind.
“Hulle het op die R55 voor Shakespeareweg in Barbeque Downs (naby Midrand) gery toe hulle aangeval is.
Trent is in die maag geskiet en is steeds in die intensiewe sorgeenheid in die Sunninghill-hospitaal. Sy vrou is ongedeerd.
“Die aanvallers het met juwele twee selfone en ‘n handsak gevlug,” het Cloete gesê.
Niemand is in hegtenis geneem nie en dit is nie bekend of die polisie enige leidrade het nie.
“Al wat ek vir eers kan sê is dat die ondersoek voortduur.”
Richard Sloman, woordvoerder van die maatskappy, het vroeër gesê Barcroft se vrou is steeds geskok oor die voorval.
Jack Hilmer, woordvoerder van die Amerikaanse ambassade, het gesê hulle neem kennis van die skietery, maar kan nie kommentaar lewer nie, omdat Trent ‘n private burger is.
‘n Bestuurafdeling by die maatskappy is tans in beheer tot Trent terugkeer werk toe.
