Volgens die plaaslike verteenwoordiger van die Blou Vlag-toekennings, die Dierelewe- en Omgewingsvereniging van Suid-Afrika, het toetse van sekere strande onaanvaarbaar hoë vlakke van ontlasting in die water getoon.
‘n Woordvoerder van die organisasie, Alison Kelly, het gesê dat E coli-vlakke binne aanvaarbare perke verkeer. Maar die vlak van fekale enterococcus en streptococcus in seewater rondom die Durbanse kus verteenwoordig rede tot kommer.
Mnr. Michael Sutcliffe, die munisipale bestuurder van Durban, het in ‘n onderhoud met ‘n Sondagkoerant gesê dat sy stad nie aan Eurosentriese gesondheidstandaarde gebind wil wees nie en dat Durban as ‘n ontwikkelende stad beskou moet word. Hy het ook die Blou Vlag-bestuur as vermetel bestempel.
