Die Instituut vir Sekerheidstudies het die regering gemaan om te let op wie die land binnekom. Dit volg op die inhegtenisneming gister van 19 vermeende rebelle van die Demokratiese Republiek van die Kongo in Limpopo.
Hulle word daarvan verdink dat hulle saamgesweer het om die regering van die DRK omver te werp. Die Instituut meen dat grensbeheer verbeter behoort te word.
Die verdagtes sal waarskynlik aangekla word van oortredings van die Wet op die Verlening van Buitelandse Militêre Bystand.
Die polisie in Limpopo probeer steeds om die 19 rebelle wat daarvan verdink word dat hulle saamgesweer het om die bewind in die Demokratiese Republiek van die Kongo omver te werp, se identiteite vas te stel.
Lede van die polisie se teenterreureenheid het Dinsdag die verdagtes aangekeer. Hulle het gereageer op ‘n wenk deur die publiek.
Die rebelle is volgens die radiostasie op verskeie plekke aangekeer en het geen weerstand gebied nie.
Die polisie werk tans om hulle met spesifieke rebelle-aktiwiteite in die DRK te verbind.
