Personeel by die McCord-hospitaal in KwaZulu-Natal het kennisgewings ontvang dat die hospitaal in Maart gaan sluit, berig die Sunday Times.
Dít volg ná die provinsiale departement van gesondheid se aankondig dat hy nie meer jaarliks die hospitaal van ‘n subsidie sal voorsien nie.
“McCord het nie ‘n aanduiding ontvang dat sy befondsing hernu gaan word nie. Weens dié verlies verloor McCord sy lisensie om as ‘n staatsondersteunde hospitaal te bedryf en sal dit nie kan bekostig nie,” het Kevin Smith, hoof-uitvoerende beampte van die hospitaal, gesê.
“Dit is regtig skokkend … dit weerspieël ‘n kombinasie van die absolute onsensitiwiteit van die eerstens die Obama- en dan die Zuma-administrasies,” het hy gesê. “Ironies genoeg, was McCord een van die hoogste profiel Vigs-klinieke wat mense soos Paul Farmer – ‘n beroemde Harvard dokter – en Jim Yong Kim, nou Wêreldbankvoorsitter, hier in Durban gevier het deur hul Partners in Health-netwerk.”
Suid-Afrika het in die loop van 10 jaar byna R25 miljard van PEPFAR ontvang, om MIV/Vigs-voorkoming, sorg en behandeling te ondersteun. Maar verlede jaar het die Obama-administrasie planne aangekondig om befondsing vir PEPFAR te sny om op tuberkulose en malaria te konsentreer.
McCord is een van die grootste hospitale in KwaZulu-Natal en bestaan uit 140 beddens en 400 personeellede. Die hospitaal bedryf ook die land se grootste MIV-sorg- en behandelingsprogram.
Volgens die koerant sal alle gesondheidsdienste by die hospitaal op 31 Maart opgeskort word.
Pasiënte sal na ander staatsondersteunde hospitale in Durban verwys word.
Sibongiseni Dhlomo, provinsiale minister van gesondheid, wou nie kommentaar lewer oor die kwessie nie.
In Februarie 1963 het die Post-koerant ‘n voorblad gedra wat na die hospitaal as die “People’s Hospital” verwys, in kritiek teen die voorstel dat hulle na ‘n tuisland behoort te verskuif.
Dié Durbanse hospitaal het toe volgens sy ondersteuners “alle rassistiese teorieë verkeerd bewys”.
