Hulle beweer nuwe bewyse van ‘n polisiesameswering teen hulle het na vore gekom.
Regter Eben Jordaan het die saak tot 24 Januarie uitgestel.
Paul Kruger, wat sommige van die beskuldigdes verteenwoordig, sê ‘n oudpolisieman, kapt. Deon Loots, het bewerings gemaak oor die beweerde ongerymdhede tydens die ondersoek en hofsaak, wat in Oktober verlede jaar in ‘n Sondagkoerant verskyn het.
Rapport het in twee berigte die polisiebeampte aangehaal wat beweer die polisie het bewyse op die mans geplant, hulle aangehits om misdrywe te pleeg en het konsultasies met hul regspanne afgeluister.
Loots was een van die ondersoekers in die Boeremag-saak en die hanteerder van die agent wat die regses geïnfiltreer en teen hulle getuig het.
Hy was ‘n kaptein in die beleërde misdaadintelligensie-eenheid (MIE) en het die afgelope week gesê hy is bereid om in die hof te getuig en die polisie se “misdadigheid” oop te vlek.
