Franse soldate sal waarskynlik hulle lewens in Mali opoffer vir ‘n groot maatskappy, Areva, om die regte te kan verkry om ‘n uraanmyn te bedryf wat 5 000 ton in die suidweste van die land lewer. Frankryk steun swaar op kernkrag vir sy energiebehoeftes.
Frankryk het sy lugaanvalle voorgesit wat dié week begin het om die “Islamisering” van die streek te voorkom. Die regte van vroue en vryheid van uitdrukking, “sal verdedig word”, het Bernard Kouchner, ‘n Franse hooggeplaaste amptenaar, Saterdag belowe.
Die Franse operasie, genaamd “Opération Serval” (die naam van ‘n Afrika-kat) is gelas nadat verskeie posisies in die suide deur rebelle beset is en hulle gedreig het om Bamako, die hoofstad, en daarna totale beheer van die land, oor te neem.
Die huidige situasie kan ‘n probleem vir Frankryk skep, en nie om redes betreffende “humanitêre” belang wat so vurig deur Bernard Kouchner en ander verdedig word nie, maar meer waarskynlik omdat Areva, ‘n Franse nywerheidsgroep wat in kernkrag spesialiseer – in die besonder die ontginning van uraanerts – die stryd vir die bedryf van ongeveer 5000 ton van die erts in Falea, ‘n stad van 17.000 inwoners in ‘n afgeleë gebied 350 kilometer van Bamako, verloor het.
Die geskiedenis van die ontdekking in Falea het nie onlangs begin nie en is reeds in die 1970s as nastrewenswaardig beskou. Cogema (Areva vorige naam) en die Buro van Mynwese se Geologiese Navorsing in samewerking met die staatsbeheerde SONAREM van Mali het die eksplorasie voltooi.
Dit was nie destyds winsgewend nie, veral as gevolg van die afgesonderdheid van die gebied, asook die probleme van toegang tot water en energie wat nodig is om die myn te bedryf. Sedertdien het die globale konteks verander en is dit nou ‘n ware mynbougeleentheid wat in Mali tot die huidige konflik gelei het.
Sedert 2005 is die Kanadese maatskappy Rockgate in opdrag van die regering van Mali besig om te boor en navorsing in Falea te doen. Rockgate het ‘n voorlopige verslag in 2010 opgestel, wat voltooi is deur Golder Associates, ‘n internasionale “adviseur oor energieverwante gebiede”. Die studie toon “dat Mali ‘n wêreldklasomgewing vir die bedryf van uraan bied.”
Sedert 2011 is die maatskappy in opdrag van Foraco, wat in Marseille geleë en in Toronto genoteer is, besig om te help met die uitbreiding van eksplorasie en boorbedrywighede in Falea.
Frankryk se invloed in die uraanryke Mali is deur dié verwikkelinge gestrem. Ten spyte daarvan het sy ambassadeur, Christian Rouyer, ‘n paar maande gelede belowe “Areva is die toekomstige operateur van die uraanmyn in Falea”.
Om vanuit dié stelling af te lei dat die Franse militêre ingryping in Mali hoofsaaklik bedoel is om die belange van Areva te beskerm, is dus nie vergesog nie.
Islamiete wat in die noorde van Mali gebaseer is en daagliks deur Franse vegvliegtuie geteiken word, het Maandag onderneem om wraakaanvalle in Frankryk uit te voer.
“Frankryk het Islam aangeval. Ons sal die hartjie van Frankryk teiken,” het Abou Dardar, ‘n rebelleleier, telefonies aan AFP gesê.
Die groep is glo verwant aan Al-Kaïda se tak in die Magreb in Noord-Afrika, AQIM. Die wapens wat die rebelle tot hulle beskikking het, is deur die NAVO-invallers in Libië verskaf. Dié wapentuig en vegters het sedertdien hul weg na Mali gevind.
Twee C17-vragvliegtuie is ontplooi om Franse pogings in die Wes-Afrikaanse land te ondersteun, terwyl Britse onbemande tuie en spioenasievlugte op bystand is om te help teen wat die eerste minister David Cameron beskryf as ‘n “gevaarlike Islamitiese regime”.
In ‘n bloedige naweek vir Franse magte, het die ministerie aangekondig dat ‘n gevegsvlieënier dood is nadat sy helikopter tydens die militêre ingryping in Mali afgeskiet is.
Frankryk het ‘n verdere terugslag beleef toe ‘n poging om een van hulle agente, Denis Allex (‘n kodenaam), te red, misluk het. Twee Franse soldate is tydens die mislukte geheimedienssending in Somalië gedood.
Franse bronne wat anoniem wou bly, sê die sending is deur Amerikaanse “hulp” gekompromitteer.
Die Franse ministerie van verdediging het bevestig dat die gyselaar ‘n lid van die geheime diens, die Algemene Direktoraat vir eksterne veiligheid (DGSE), was wat die operasie bestuur het.
