Julius Malema, geskorste leier van die regerende party se jeugliga, sê Cyril Ramaphosa is die Rupert-dinastie se “Doom” teen die ANC-Jeugliga.
Malema het tydens ‘n onderhoud met City Press gesê Johan Rupert het vroeër na die ANC-Jeugliga as ‘n muskiet verwys wat met ‘n insekdoder behandel moet word.
Hy sê sy probleme, sowel as die van die Jeugliga, is terug te lei na dié uitspraak en dat dit wys dat die ANC in diens van groot kapitaal optree.
Hy het gesê Ramaphosa is ook in diens van die Ruperts.
City Press berig die omstrede politikus word deur bankrotskap in die gesig gestaar, nadat sy vriende en bondgenote teen hom gedraai het.
Limpopo-sakeman, Lesiba Gwangwa, eers Malema se weldoener, help glo tans die Nasionale Vervolgingsgesag en SA Inkomstediens met die ondersoek na ongerymdhede in Malema sakebedrywighede.
Malema het in ‘n eksklusiewe onderhoud met die koerant op sy plaas buite Polokwane, Limpopo, gesê mense wat hy eens as vriende of vennote beskou het, behandel hom nou asof hy ‘n melaatse is.
“Ek het baie vriende verloor. Ek is ‘n mens wat glo dat diegene wat jou in moeilike tye los, in die eerste plek nie daar was vir jou nie…” het hy gesê.
