Blue Mountain het ‘n kontrak ter waarde van $387,000 vir een jaar van die US State Department bekom, met net een Britse werknemer – ‘n bekende in lyfwagkringe – om toesig te hou oor die kompleks en die ambassadeur se besoek.
Die plaaslike Libiërs is egter oorrompel deur ‘n bende Islamitiese ekstremiste op die oggend van 12 September in ‘n klaarblyklike beplande aanval wat gelei het tot die dood deur verstikking van Stevens.
Blue Mountain, wat bestuur word deur ‘n voormalige lid van die SAS, het verlede jaar die kontrak bekom om na die veiligheid van Amerikaanse hooggeplaastes in Libië om te sien. Voorheen het die oud-lid korttermyn kontakte gehad om behuising en ‘n vyfster-hotel in Tripoli te bewaak, en het die gesogte Amerikaanse kontrak bekom sonder die nodige ervaring.
Ander maatskappye in die sekuriteitsindustrie het hulle verbasing uitgespreek dat Blue Mountain gekies is vir ‘n groot, hoë profiel-kontrak van die Amerikaanse regering. Een kenner het gesê die vlak van diens wat Blue Mountain bied is nie voldoende om die risiko’s wat in ‘n wettelose stad heers, te beheer nie.
“Ons het die konsulaat in Benghazi ‘n paar keer besoek en het ‘n uitstekende verhouding met die Amerikaners. Ons beoordeling was dat die ongewapende Libiese wagte van ‘n uiters swak kaliber was,” sê een bron. “Die Libiese Ministerie van Binnelandse Sake is oor die algemeen nie tevrede met Blue Mountain nie en het hulle geswartlys.”
Die New York Times het verlede week berig dat groot sekuriteitsmaatskappye met ‘n bewese rekord van bewaking van Amerikaners elders vir die werk in Libië aansoek gedoen het, maar dat hulle afgekeur is.
Darryl Davies, die bestuurder van die die Benghazi-kontrak vir Blue Mountain, was glo reeds nie op goeie voet met sy Libiese werknemers nie.
Abdul Aziz Majbiri, ‘n Blue Mountain-wag by die kompleks, het aan die Daily Telegraph gesê: “Ons was in uniform, en ongewapen, behalwe vir taser-gewere en boeie.”
Amerikaanse diplomate glo dat twee ontevrede werknemers van Blue Mountain reeds vroeër ‘n klein pypbomaanval teen hulle geloods het. Geen aksie is egter geneem deur die polisie of maatskappy oor die voorval nie.
Nigel Thomas, die direkteur van Blue Mountain, het geweier om enige vrae te beantwoord.
