Rand val, Brics bly

Maandag het die Rand teenoor die dollar verswak tot R9 voordat dit herstel het na R8.93 teen die middaguur.

“Die krag van jou geldeenheid gee jou die rigting waarin kapitaal vloei,” sê Chris Hart, strateeg by Investment Solutions. “En ‘n swakker rand beteken dat kapitaal uit die land vloei.

“En dit kan net die begin wees. Maar my kommer is nie dat dit buitelandse beleggers is nie, maar plaaslike beleggers”, het Hart gesê.

Die staking by Lonmin se Marikana-myn in die Noord Wes wat 46 mense dood gelaat het, asook onbeskermde stakings by meer as 20 myne regoor die land en selfs ‘n beskermde staking in die vervoersektor het harder geslaan as wat aanvanklik verwag is.

Eise mik na die 22%-loonverhoging soos by Lonmin, en selfs hoër. Daarmee gaan mededingendheid ‘n groot terugslag in die volgende paar jaar beleef, sê Hart.

Die veerkragtigheid van die Rand word gereeld aangehaal deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêrebeleidskomitee in sy besluit om die terugkoopkoers te hou of te sny. Maar die geldeenheid het nou sy rieme styfgeloop.

En ‘n swakker rand bevorder inflasie, terwyl loonverhogings waarskynlik sal lei tot werkverliese.

Hart het gesê daar kom ‘n verskuiwing weg van arbeidskoste, wat eerder na die gehalte van arbeid sal kyk. “Met die kostestygings van 30% tot 40%, moet daar produktiwiteit wees wat daarmee saamgaan.”

Die retoriek tussen die Bricslande, die EU en Amerika kan dalk warm raak, omdat die EU steeds kollektief die grootste ekonomie in die wêreld verteenwoordig, en ekonomiese interafhanklikheid ‘n werklikheid is, maar die feit bly dat die ontluikende lande sterker groei sal toon as die sukkelende VSA en Europa wat met ‘n resessie worstel.

Suid-Afrika, soos Brasilië en Indië, is reeds afhanklik van China wat die Weste as grootste handelsvennoot vervang het. Groei in China met verhoogde looneise is stadiger en sal daarom die Suid-Afrikaanse ekonomie negatief beïnvloed, maar aan lewenskragtigheid sal China minder inboet as die demografiese puinhoop van Europa.

Die groot verhaal van ons eeu wat stadig besig is om te ontvou, sal ongetwyfeld die politieke invloed van die Ooste wees. Dis ‘n ekonomiese gegewe.

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae