En dan is daar Geert Wilders, die leier van populistiese Regs wat die verslegtende toestand meesterlik uitbuit. Selfs al word al die rusies nie deur dié politikus veroorsaak nie, belowe hy reeds vier maande lank ʼn film teen die Koran. Dié aankondiging het ʼn storm ontketen wat die wond van die moord op die filmmaker Theo van Gogh weer laat oopgaan het. Hy is op 2 November 2004 keelaf gesny deur ʼn jong Nederlands-Marokkaanse Moslem, drie maande ná die verspreiding van sy film, “Onderwerping”, wat die toestand van vroue onder Islam gekritiseer het. Sedertdien word Moslems in Nederland gesien as ʼn afsonderlike groep van 850 000 mense (5% van die Nederlandse bevolking). Die teenwoordigheid van 20 000 tot 30 000 radikales, volgens die geheime diens, word deur Geert Wilders aangedui as ʼn bedreiging weens die “Islamisering van die Nederlandse samelewing”.
Die boerkini, die nuwe tipe baaikostuum wat die hele liggaam van vroue bedek, verskaf ʼn aanduiding van die toename in fundamentalisme. Om die reaksie van die publiek te toets, het die TV-kanaal Netwerk ʼn joernalist uitgestuur om die waters van die land se swembaddens in ʼn boerkini te toets. Die ergste reaksie was van ʼn Moslem wat uitgevaar het teen “die toenemende invloed van ortodokse Islam in Nederland”. In totaal en tot op hede het ses munisipale swembaddens die Moslembaaikostuum verbied.
Die koninkryk van Nederland is duidelik vasgevang in ʼn dubbele konflik tussen godsdiensvryheid en meningsvryheid, enersyds, asook integrasie en verdraagsaamheid andersyds. In September het ʼn regeringsagentskap ʼn beroep op Nederlanders gedoen om “hulle by Islam aan te pas”. Die argument van die agentskap was die volgende: “Verdraagsaamheid is te min.” Die Islamkenner Hans Janssen van die universiteit van Utrecht meen inteendeel dat “Nederland te veel toegee aan die dreigemente wat deur die fundamentaliste rondgeslinger word”. Hy is gekant daarteen dat die regering aan Geert Wilders gevra het om nie sy film te vertoon nie, uit vrees vir weerwraak van Moslems. In ʼn ander toon, het die bank Fortis sy spaarbussie in die vorm van ʼn varkie wat aan elke kind uitgedeel is wat ʼn rekening open deur ʼn ensiklopedie vervang.
Op sy beurt het die Nederlandse Mediese Vereniging (KNMG) in Februarie besluit dat elke pasiënt voortaan mag vra of hy ʼn mans- of vrouedokter wil hê, maar besluit om nie rekening te hou met die godsdiens van die praktisyns nie. Dit was ʼn manier om te ontkom aan die debat teenoor die toenemende eise van Moslems wat die gesondheidstelsel betref. Uiteindelik, na drie jaar van oponthoud, is ʼn boupermit te Amsterdam uitgereik om ʼn groot moskee op te rig wat die hoogste gebou in die stad sal wees.
Ronald Plasterk, die minister van kultuur, onderwys en emansipasie, het gepoog om die atmosfeer te besweer deur aan die Moslems te vra om hul van die Koran “te distansieer. Indien mens alles letterlik sou opneem, is daar genoeg om jou mal te maak, vanuit ʼn moderne gesigspunt,” het hy verklaar. Sooreh Hera, ʼn kunstenares van Iranese oorsprong, het die minister terstond daarvan beskuldig dat hy “vryheid van spraak onderdruk”. Sy kritiseer hom weens sy gebrek aan steun nadat die munisipale museum van Den Haag geweier het om omstrede foto’s uit te stal. Dié beelde het homoseksuele Iranese paar getoon wat maskers dra in die vorm van die profeet Mohammed en sy skoonseun Ali. In Parys gaan die Pompidou-sentrum dit uitstal, maar in Nederland was niemand daartoe bereid nie. ʼn Enkele museum in Gouda het ʼn tentoonstelling belowe. Die direkteur daarvan het egter van mening verander, maar ontken dat hy onder druk geswig het.
