Ons is nou by ‘n kruispad wat energievoorsiening aanbetref. Aan die begin van ons nuwe demokrasie kon Eskom twee keer meer krag opwek as wat die maksimumverbruik was.
Vandag is die opwekkingvermoë en verbruik in perfekte balans.
Die skuldige is natuurlik Verwoerd wat destyds te veel kragstasies laat bou het.
Nietemin stel die huidige situasie nuwe uitdagings aan die regeerders en beplanners.
Die opsies beperk. Hule kan steenkool kragstasies bou maar visioene van stede wat in die see verdwyn as die ys aanhou smelt, maak hulle huiwerig. Kernkragstasies hou ook bepaalde uitdagings in. Hoewel hulle heelwat makliker is om te bedryf as rioolplase en watersuiweringsaanlegte sluip daar soms menslike foutjies in wat nie voorsien kon word nie. Gelukkig word mense maklik hervestig indien daar ‘n herhaling van die Foekoesjima-insident sou plaasvind.
Die gasvelde van die Karoo is verbode terrein. Omgewingsaktiviste het klaar onomwonde vasgestel dat aaklige boortorings die horisonne onherkenbaar gaan vermink. Om nie te praat van die wildsbokkies wat ‘n afgryslike dood gaan sterf as hulle drinkwater besoedel word nie.
Daar is egter ‘n bron van energie wat onuitputlik is. Dit werk op die beginsel van die mees moderne tegnologie wat die mens tot dusver kon bemeester: Kernversmelting.
Kernversmelting is ook baie gevaarlik maar as ons die reaktor ver genoeg van ons af kan wegkry en net die energie wat ons wil gebruik na ons toe kan stuur, is ons heel veilig.
As ons in die oggende opkyk in die lug sal ons sien dat die Skepper alreeds vir ons so ‘n reaktor ontwerp het.
Ons moet net leer om dit te gebruik.
