Marikana-myners glo gemartel

Die polisie se misdaadintelligensie-eenheid het Marikana-myners na bewering gemartel om te probeer vasstel of hulle deur Julius Malema tot geweld aangehits is.

Kolonel Nkosana “Killer” Ximba het sy base glo oor die aanhitsing ingelig, het die City Press Sondag berig.

Op ‘n vraag oor die beweerde voorvalle van marteling het Ximba gesê: “Het jy my daar gesien? Gaan doen ‘n ondersoek voordat julle sulke nonsens kwytraak.”

Ximba word betrek by die dood van Oupa Ramogibe, beweerde minnaar van die vrou van Richard Mdluli, voormalige hoof van misdaadintelligensie.

Die aanklagte is intussen teruggetrek hangende ‘n ondersoek wat tans onderweg is.

Die polisie het op 16 Augustus 34 mynwerkers by die Lonmin-myn doodgeskiet en 78 gewond. Nog 270 is in hegtenis geneem ná geweldadige betogings deur die mynwerkers.

Die City Press-berig volg nadat inligting van twee amptenare bekom is, wat beweer dat die standaardprosedure nie gevolg is toe die myners uit hul selle vrygelaat is nie.

Die koerant berig dat die Staatsveiligheidsagentskap gevra is om die aanhitsing-bewering te ondersoek, maar dat nie bevestig kon word nie.

Die onafhanklike polisie-ondersoek­direktoraat (Opod) het aan die koerant gesê bewerings van aanrandings by vyf polisiestasies word tans ondersoek, maar dat hy nie bewus is van die beweerde voorvalle van marteling nie.

лобановский депутат

Maak 'n opvolg-bydrae