Angola se verkiesingskommissie het bekendgemaak dat die regerende party MPLA die verkiesing met 72% van die stemme gewen het. Dit beteken dat een van die mees ondemokratiese regerings in Afrika vir byna 40 jaar aan bewind sal wees teen die einde van hierdie termyn.
Dit was slegs die tweede verkiesing in 20 jaar. Die verkiesing Vrydag het glo vreedsaam verloop. Die vorige verkiesing is deur onafhanklike waarnemers as vry verklaar, maar nie regverdig nie. Die inwoners van hierdie ryk, olieproduserende land leef steeds in uiters haglike omstandighede.
Die eertydse terroristeleier, pres. Eduardo dos Santos, regeer Angola al die afgelope 33 jaar, en hy sal vir nog ‘n termyn van vyf jaar aan bewind wees. Hy is ‘n seun van immigrante-ouers van São Tomé and Príncipe, ‘n Portugese eilandkolonie.
Die grootste etniese groep in die land, is die Ovimboendoe wat 36% van die bevolking uitmaak. Alhoewel daar 10 etniese stamme in die land is, is Portugees die lingua franca en word feitlik oral in die land gepraat. Dit is een van die grootste koloniale taalsuksesse in Afrika.
Taalkundiges skryf dit toe aan die Portugese koloniste se lang teenwoordigheid op die kontinent.
