Die ouditeur-generaal (OG) het ‘n neerdrukkende verslag oor die Tshwane-metro se finansies ontvang. Die ANC ontken egter dat ‘n finansiële krisis in Pretoria dreig.
‘n Langtermynlening van R1,5 miljard is egter ten spyte van die genoemde probleme onverwags in Junie goedgekeur.
Volgens die verslag het Tshwane se krediteureskuld in 2011-’12 met ‘n 1 900% toegeneem binne ‘n jaar.
Dié skuld was R132,5 miljoen in 2010-’11 en het tot R2,3 miljard gestyg vir 2011-’12.
Die skuld is gemiddeld ouer as 90 dae, wat ‘n oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) beteken. Tshwane se krediteure maak tans 18,94% van sy bedryfsbegroting uit.
Die syfers dui daarop dat die metro nie sy finansiële verpligtinge kan nakom nie en ook nie diensverskaffers kan betaal nie.
Tshwane het intussen aangekondig dat die stad miljoene gaan spandeer op ‘n gholftoernooi. Burgemeester Kgosientso Ramokgopa, Sam Hackner van Investec Property, en Selwyn Nathan, uitvoerende direkteur van die Sunshine Tour het onlangs die besluit van die metro gevier.
Tshwane se belastingbetalers sal die R132 miljoen moet voorsien om die Tshwane Open aan te bied.
Maar ontleders het gewaarsku dat dit ‘n vrugtelose verkwisting kan wees as dit nie behoorlik bestuur word nie.
Tshwane het ‘n drie-jaar kontrak vir die toernooi onderteken. Dit beteken dat die stad R44 miljoen elke jaar vir die volgende drie jaar sal moet opdok om die PGA-geleentheid aan te bied. Dit vorm deel van die Sunshine Tour.
