Iran wil die weeklange byeenkoms gebruik as ‘n vertoonvenster van sy globale bande en is ‘n poging om die Weste en sy bondgenote se negatiewe siening van die land te beperk. Onder diegene wat die geleentheid sal bywoon tel die VN se sekretaris-generaal Ban Ki-moon en die premier van Indië, Manmohan Singh, wie se land ‘n belangrike oliekliënt van Teheran is.
Iran sukkel met Westerse sanksies agv sy kernprogram wat hy sê vir kragopwekking aangewend sal word.
Die 120 lede van die Beweging van Onverbonde Lande, ‘n oorblyfsel uit die Koue Oorlog, word deur Iran en ander as ‘n alternatiewe forum vir die huidige wêreldsamesprekings beskou. Iran sê dat hulle gesprekke voorsien vir ‘n vredesplan om Sirië se burgeroorlog te beëindig, maar geen rebellegroepe sal dit bywoon nie as gevolg van Teheran se noue bande met die Siriese president Bashar Assad se regime.
Iran se minister van buitelandse sake, Ali Akbar Salehi, het die byeenkoms geopen deur die verbintenis tot ‘n vorige doel van die onverbonde groep, te herhaal: Om die wêreld se kernarsenalen binne 13 jaar af te bou.
“Ons glo dat die doelwit vir die uiteindelike afbou van kernwapens 2025 is, wat deur BOL voorgestel is, en dit sal slegs bereik word indien ons beslissend optree,” het hy gesê aan afgevaardigdes.
Salehi het Israel gekritiseer omdat hulle buite die VN se kernsperverdrag vir die verspreiding van kerntegnologie verantwoordelik is. Israel weier om die volle omvang van sy militêre vermoëns te verklaar, maar dit word wyd geglo dat hulle ‘n indrukwekkende kernarsenaal besit.
Selfs voor die eerste sessie het ‘n dispuut opgevlam oor Palestynse gesante. Die Palestynse president Mahmoud Abbas het gewaarsku dat hy nie sal opdaag indien sy mededinger van Hamas ook deelneem nie.
