Die Moslem- poltieke party Al Jama-aa beplan ‘n betoging teen die vorige Britse eerste minister Tony Blair as hy in Johannesburg kom praat, het die party Maandag verklaar.
“Die betoging word gehou ter ondersteuning van die lasbrief vir sy inhegtenisname vir misdade teen die mensdom wat verband hou met die inval in Irak wat tot die dood van miljoene Irakiërs gelei het,” meen die voorsitter van Al Jama-aa, Ganief Hendricks.
Blair is een van die sprekers by die Discovery-leierskapsberaad by die Sandton-konvensiesentrum wat Donderdag gehou word. Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu en die skaakgrootmeester en politieke aktivis Gari Kasparof sal ook na verwagting toesprake lewer.
Hendricks het gesê die stad Johannesburg laat die party toe om met die betoging voort te gaan.
“Daar word gehoop dat een of meer van die betogers dit sal regkry om ‘n burgerlike inhegtenisname op Tony Blair te doen en hom in die tronk te kry sodat hy aan Den Haag vir verhoor uitgelewer kan word.”
Die webwerf arrestblair.org bied geldelike belonings aan mense wat probeer om ‘n burgerlike inhegtenisname op Blair vir sy beweerde misdade teen die mensdom uit te voer.
Pogings om hom te arresteer is in China aangewend, buiten die Chilcot-ondersoek na die Irakoorlog en die Europese parlement, asook in Dublin, Ierland.
Hendricks sê Al Jama-aa gaan ook Vrydag na die Burmese ambassade in Pretoria opruk om teen “die etniese reiniging van Moslems” in daardie land beswaar te maak.
“Moslems word elke dag vermoor [en] die meeste van hulle [is] vroue, kinders en oumense,” het hy gesê.
“Ons moenie die krag van doea [gebed] vergeet en betogings wat ‘n [vorm van] doea [gebed] op sigself is nie. Die ambassades van lande wie se regerings Moslems doodmaak moenie verwag om geen beswaar in Suid-Afrika teë te kom nie.”
