Paramedici het hul hande vol gehad toe rouklaers emosioneel geraak het gedurende die diens vir 34 mynwerkers, wat ‘n week gelede in die gebied in ‘n skietery met die polisie dood is.
Meer as 1 000 Wonderkop-inwoners en talle geestelikes het in ‘n markiestent naby die informele nedersetting bymekaargekom.
Die SABC berig die regering het sy gedenkdiens afgestel om die gemeenskap se diens by te woon.
Floyd Shivambu (voormalige woordvoerder vir die ANC se jeugliga), Nathi Mthethwa (minister van polisie), Collins Chabane (minister in die presidensie), Motsoaledi, Richard Baloyi (minister van samewerkende regering), Thandi Modise (premier van die Noordwes) en die burgemeester van Rustenburg, Mpho Khonou, het die diens bygewoon.
Thabo Makgoba, Anglikaanse aartsbiskop, het vir die roubeklaers gesê geweld sal nooit ‘n probleem oplos nie.
“Laat ons nie mekaar dood maak nie… vergewe, moenie wraak neem nie.”
Dis ook hoogtyd dat politici ophou om die tragedie te gebruik vir politieke voordeel, het hy gesê.
Roubeklaers kon tydens Makgoba se spreekbeurt nie teen die emosie veg nie. Sommige het onbedaarlik geskree en gehuil.
