Die massaslagting by Marikana teen lede van die Amcu-vakbond, het skokgolwe deur die wêreld gestuur.
Daar was duidelik ‘n gevoel by die slagoffers dat die ANC, die polisie en die NUM in diens van wit kapitaal staan, téén die swart werkers.
“NUM het ons versaak,” het een van die stakende werkers, Kelebone, aan die New York Times gesê. “NUM werk vir die wit mense om geld te kry. Hulle het vergeet van die werkers.”
Polisiebeamptes by die Lonmin-myn in Marikana in die Noordwes het hul bes in ‘n gespanne situasie gedoen, het Nathi Mthethwa, minister van polisie, se kantoor in ‘n verklaring gesê.
“Die minister wil ‘n versoek aan die president rig om ‘n volledige ondersoek na hierdie hele situasie van stapel te stuur…” het Zweli Mnisi, ‘n woordvoerder, gesê.
“Nou wat moet die polisie in sulke situasies doen wanneer hulle deur gewapende en harde misdadigers wat die polisie vermoor, in die gesig gestaar word?”
‘n Skietery het Donderdagmiddag tussen polisiebeamptes en stakende mynwerkers uitgebreek.
RSG berig Beukman sal amptelik aan die einde van die maand uit sy pos tree, nadat hy die pos sedert 2009 beklee het. Sy kontrak sou eers in 2014 tot ‘n einde gekom het.
Die hoofdirekteur van direktoraat se regsdienste, Koekie Mbeki, sal van aanstaande maand in die pos waarneem, het die radiostasie berig.
Joseph Mathunjwa, president van Amcu, sê die lede van sy vakbond wou met die bestuur ontmoet, maar die bestuur het nie hul beloftes nagekom nie.
Terwyl Lonmin se uitvoerende hoof skielik ongesteld geraak het, het die voorsitter gesê dit was nie ‘n “arbeidsaangeleentheid” nie, maar ‘n “openbare orde probleem”.
In ‘n verklaring Donderdagnag, het Lonmin voorsitter Roger Phillimore gesê: “Ons sal die verwikkelinge rondom polisiebedrywighede vanmiddag [Donderdag] met die grootste erns behandel. Vanselfsprekend is ons diep getref deur die verlies van lewe in wat duidelik ‘n openbare orde eerder as ‘n arbeidsverhoudinge-kwessie was. “
Televisiebeeldmateriaal toon die polisie wat ongeprovokeerd op stakers losbrand en lede van die polisie wat ongeërg tussen die lyke rondloop en doodluiters wapens op swaargewonde stakers rig.
“Ongeag van wat die polisie kan argumenteer oor provokasie, is daar geen regverdiging vir die skietery in ‘n skare met gewere en handwapens nie,” sê Frans Cronjé van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge op Twitter.
“Ons is aangeval toe ons op ons pad na ‘n vergadering was Vrydag. NUM-leiers vermoor ons omdat hulle die werkgewer wil beskerm,” het ‘n werker wat homself as Tau Tau geïdentifiseer het, aan timeslive.co.za gesê.
“Hulle [NUM-leiers en Lonmin] het die polisie gekry om te kom en ons te kom doodmaak. Ons is nie bang nie, want ons werk ondergronds en ons lewens is altyd in gevaar,” sê die werker Andries Tsinyao.
‘n Verslaggewer van Sapa sê hy het 18 lyke langs die nabygeleë Wonderkop-plakkerskamp gesien. Die amptelike dodetal en aantal mense wat gewond is, moet nog bevestig word.
Mnisi sê die polisie het aanvanklik probeer om die stakers op ‘n vreedsame wyse uitmekaar te jaag. Hy sê polisiebeamptes het eers traangas en waterkanonne gebruik, maar dit het nie gehelp nie.
Politieke partye het intussen daarop aangedring dat ‘n dringende ondersoek na die skietery gehou moet word.
Pres. Jacob Zuma is ook baie hartseer oor die manier waarop die dispuut by die myn na die verlies van so baie lewens gelei het, het die presidensie in ‘n verklaring gesê.
Hy het die geweld as “sinneloos” bestempel.
Azanian People’s Organization (Azapo) sê die geweld herinner sterk aan die massamoord op 21 Maart 1960 in Sharpeville, op 16 Junie 1976 in Soweto en op 17 Junie 1992 in Boipatong.
