Egipte se president, Mohammed Morsi, het sy intelligensiehoof, Moerad Moewafi, afgedank ná ‘n noodlottige aanval op soldate in Sinaï. Hy is Egipte se tweede intelligensiehoof nadat die vorige spioenbaas onlangs oorlede is.
Reuters berig dat die Moslembroederskap op hul webwerf verklaar het dat Israel vir die aanval verantwoordelik is om die Egiptiese regering in die verleentheid te stel. Hulle het ook gevra dat die ooreenkomste met hul buurland “hersien” word.
Hosni Moebarak se langtermyn-intelligensie hoof Omar Soeleiman, wat ook kortliks gedien het as die land se vise-president voor die voormalige president ontsetel is, is onlangs in die VSA oorlede.
Hy is van die V.A.E. na Duitsland geneem en is daarna verder na Cleveland in die VSA, waar hy skielik oorlede is. Hy was glo fiks en gesond en het muurbal gespeel voordat hy na Duitsland gereis het vir ‘n roetine mediese ondersoek, sê bronne in die Egiptiese intelligensiegemeenskap.
Soeleiman, 76, was ‘n getroue bondgenoot van Hosni Moebarak, adjunk-hoof van militêre intelligensie vanaf 1986 en later sy direkteur in 1991.
In 1993, het hy die hoof van die Egiptiese Algemene Intelligensiediens geword – nog ‘n tak van die Egiptiese intelligensiegemeenskap.
Op 11 Februarie 2011, het Soeleiman Moebarak se bedanking aangekondig. Hy het Moebarak glo gewaarsku dat sy seun Gamal nie geskik sou wees vir president nie en dat daar tekens van opstand in Egipte dreig as Moebarak sou voortgaan met die plan om ‘n familiedinastie te probeer vestig en om mag aan sy seun oor te dra.
Soeleiman was glo die weermag se gunsteling kandidaat vir president. Die CIA het volgens gedeklassifiseerde inligting nóú met hom saamgewerk om terreurverdagtes in Egipte op te spoor en aan die VSA uit te lewer.
Volgens WikiLeaks was die VSA se intelligensie-samewerking met Omar Soeleiman waarskynlik “die mees suksesvolle element van die twee lande se verhouding”. Die US Department of State-memo wat dié inligting bevat, is in 2006 vrygestel.
In verdere kabinetskommelings wat tans in die land woed na die aanval op die Israelse grens, het die nuwe president Morsi sy minister van verdediging, Hoessein Tantawi, beveel om die kommandeur van die militêre polisie, ‘n mag waarop swaar geleun word sedert Hosni Moebarak 18 maande gelede onsetel is, te vervang.
Sestien Egiptiese soldate is die naweek in ‘n hinderlaag doodgeskiet, maar ‘n woordvoerder vir Morsi wou nie bevestig of dit die rede is vir die skielike afdanking van die land se spioenbaas nie.
