Geweld teister Kenia

Nairobi loop deesdae onder ’n ongekende vlaag geweld deur. In die laaste tyd is ’n bejaarde Amerikaanse sendeling en haar dogter met outomatiese masjiengewere afgemaai. In nog ’n insident het onbekendes onverwags op motoriste begin vuur en ’n vigs-wetenskaplike, asook nog twee persone (waarvan een op krukke), is dood.

Die stad staan al lankal as Nairobbery bekend, as gevolg van die groot aantal diefstalle en kapings wat daar plaasvind, maar gewelddadige gebeure helder oordag, soos onlangs beleef, was tot dusver skaars.

’n Sekuriteitsfirma bemark nou ten volle gepantserde viertrekvoertuie wat masjiengeweervuur en landmyne kan weerstaan. Hulle leuse is “Time to fight back.” Hierdie voertuie word vir 275 000 dollar elk verkoop.

Volgens die hoof van die regering se menseregtekommissie, het dinge verander. “Kapers het vroeër die motor geneem en jou gelos; nou neem hulle egter die motor én skiet jou.” Hy het verder opgemerk dat die staat gefaal het. “Die regering kan nie veiligheid verseker nie.”

Plaaslike koerante beskuldig onbekwame polisiemanne en regeringsleiers wat nie omgee nie.

Ná die moord op die bejaarde sendeling en haar dogter, het die VSA hulle burgers teen die gevare in Kenia gewaarsku: “Gewelddadige misdaad kan enige tyd op enige plek plaasvind en word meer algemeen, arrogant, brutaal van aard en dikwels fataal…Keniaanse owerhede beskik oor beperkte mag om sulke dade te beëindig en te ondersoek.”

Aan die einde van die jaar vind ’n verkiesing in die land plaas en president Mwai Kibaki se regering mag dalk die onderspit delf weens hulle onvermoë om die misdaad en geweld te bekamp. Die regering blameer die onlangse gewelddadige misdaad op die wapens wat die land vanaf Soedan en Somalië binnekom. Waar misdadigers vroeër van pistole gebruik gemaak het, is meer gesofistikeerde wapens nou geredelik beskikbaar.

Sowat 60% van Nairobi se bevolking leef in armoede. Bendes regeer hierdie plakkerskampe. Polisiekorrupsie, onbekwaamheid, asook ’n swak regstelsel, dra tot die huidige misdaadprobleem by. Polisie leen glo ook hulle wapens aan misdadigers. “Die meeste van ons is te bang om met die polisie saam te werk,” aldus die voorsitter van die menseregtekommissie.

 

дизайн интерьерФільчаков Олександр Васильович прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae