Rooikoos du Plessis, ‘n ingenieur van Brits, is Maandag in Pretoria ook skuldig bevind aan hoogverraad, berig Beeld.
Du Plessis is die derde lid van die sogenaamde Boeremag wat aan hoogverraad skuldig bevind is, tesame met Mike en André du Toit.
André Wessels, ‘n staatsgetuie, het getuig dat Du Plessis gesê het sy organisasie het nie ‘n naam nie sodat dit nie uitgeken kan word nie.
Regter Eben Jordaan het in sy uitspraak gesê Du Plessis was aktief betrokke by die werwing van mense in die Vrystaat vir ‘n staatsgreep.
Jordaan het gesê Du Plessis was betrokke by die stigting van skadukommando’s wat sou optree wanneer swart mense op ‘n “rampage” of plundertog gaan.
Du Plessis het gesê sowat 8 000 skadukommandolede is nodig vir ‘n staatsgreep, “wanneer dit die tyd reg is”, verwysende na ‘n toestand van chaos in die toekoms.
Du Plessis het ook ‘n hof om volksverraaiers te verhoor in die vooruitsig gestel. Oudpres. FW de Klerk en genl. Constand Viljoen sou “boaan dié lys staan”.
Nog ‘n staatsgetuie, kol. Koos Holtzhausen, het Du Plessis as die brein in die ontmoeting met hom en ander in Nelspruit in September 2001 uitgewys. Volgens Holtzhausen wou hulle hom vir hulle planne werf.
Du Plessis het die pantserskool en Bloemspruit-lugmagbasis in Bloemfontein besoek, want Bloemfontein sou ‘n sentrale punt in die “oorname-fase” wees.
