Die begrafnis van die San-leier Dawid Kruiper vind vanoggend by Witdraai in die Kalahari plaas.
Meer as twee-duisend mense uit Suid-Afrika, Namibië en Botswana word verwag. Kruiper is twee weke gelede in Upington oorlede in die ouderdom van 76 jaar.
Hy sal veral onthou word vir sy pogings om Sangrond in 1999 van die regering af vir sy mense terug te kry. Sy seun John sal sal hom waarskynlik as Sanleier opvolg.
Hy was ook in die nuus na sy rylopery uit die Kalahari in 2004 na Kaapstad om te praat met die destydse Suid-Afrikaanse president Thabo Mbeki, en was ook betrokke in die ontwikkeling en herstel van die San-tale.
Kruiper is gebore in die Kalahari Nasionale Park. Hy was uitgesproke oor die diefstal van tradisionele kennis, veral ten opsigte van Hoodia, deur Westerse farmaseutiese maatskappye.
