Terwyl die wêreld oorspoel word met vriendelike beelde van Aung San Suu Kyi, is sektariese geweld in haar eie land nie besig om enige afname te toon nie, met meer as 70 lewens wat net hierdie maand reeds opgeoffer is.
Aung San Suu Kyi wat na jare van huisarres tot die amptelike politiek sal toetree, se ambisie om die land te hervorm kom te midde van geweld wat woed in die weste van die eersdaags “florerende demokrasie”. Die land sien sedert die begin van Junie na dekades van militêre heerskappy, uit na verandering.
Nog ‘n week van botsings het egter die lewens van 62 mense en dosyne meer gewondes in Rakhine-staat geëis, het ‘n regeringsamptenaar gister gesê. Tien Moslems is op 3 Junie deur ‘n Boeddhistiese skare aangeval en gedood. Hulle was glo op soek na wraak vir die verkragting en moord van ‘n plaaslike vrou.
Die voorval het uiteindelik gelei tot die dood van tientalle mense in wraakaanvalle en teen-aanvalle. Meer as 30 000 mense moes vlug voor brandstigting en bendes met messe, wat die strate ingevaar het.
In die VK egter, koer Cameron en sy Burmese bondgenoot vir mekaar asof daar niks skort nie.
In Rohingya is die Moslemminderheid van 800 000 ‘n druppel in die emmer van Mianmar se 60 miljoen burgers. Die land sien die minderheid as onwettige immigrante uit naburige Bangladesj, en weier om aan hulle burgerskap toe te staan nou al dekades lank waar “sistemiese diskriminasie,” soos Amnesty International dit beskryf, heers.
Bangladesj is ook nie hulle tuiste nie, en het nog 16 Moslems Donderdag aangehou wat vlug voor die tierende bendegeweld in Mianmar.
“Ons is te bang om in Mianmar te bly,” het een van die gevangenes aan verslaggewers gesê. “Selfs die weermag in Mianmar is besig om ons te teister.”
Bangladesj is reeds die toevlug van meer as 2 000 mense wat die Rakhine-botsings wil ontsnap, meen Associated Press.
Mianmar se onstuimige toestand is onder beheer na ‘n noodtoestand, sê die owerhede, maar inwoners sê die situasie bly steeds gespanne.
Die botsings in Rakhina volg na ‘n jaar van ‘n dramatiese politieke veranderinge, insluitend die vrylating van honderde politieke gevangenes en vredesverdrae met etniese minderheidsrebellegroepe. Die land is oorgehaal sodat die VSA en Europa ekonomiese sanksies teen die Asiatiese land kan opskort.
Tog, sê ontleders is die sektariese gevegte in Rakhine ‘n teken van meer as net die las van ‘n militêre bewind in die eertydse Birma.
“Baie van die konflikte wat ons sien in Mianmar is ‘n produk van ‘n gevolmagtigde oorlog wat die VSA en Westerse magte voer om Chinese ekonomiese ontwikkeling te stuit. Ons sien dit veral in Rakhinestaat, asook in Kachinprovinsie met ‘n rebellie daar. Elkeen van hierdie brandpunte in Mianmar verteenwoordig ‘n belangrike plek vir Chinese belegging in die land,” sê ‘n kenner.
“Sittwe (die hoofstad van die provinsie Rakhine) is die tuiste van ‘n groot Chinese hawe, en die plek waar ‘n pypleiding al die pad na die binneland van China begin.”
Die gaspyplyn lei na China se suidwestelike Yunnan-provinsie om te skakel met die Indiese Oseaan, die Chinese se toegang tot energie-invoer uit Afrika en die Midde-Ooste. As gevolg van die Amerikaanse vloot se oorheersing, beteken die pyplyn dat China nie heeltemal afhanklik is van die kommersiële wette van die VSA nie en is dit ‘n integrale aspek van die Chinese se strategie.
Die pyplyn self is nie die enigste probleem vir die Chinese nie. Sittwe is die tuiste van die groot hawe wat deur China befonds is en ‘n belangrike toegangspunt na Suidoos-Asië en die Indiese subkontinent. Invoere soos minerale en ander grondstowwe van Afrika sowel as olie uit die Midde-Ooste is ‘n belangrikke nodus tesame met die Pakistanse hawe van Gwadar.
Dit is om hierdie rede dat Sittwe van kardinale belang vir Chinese ekonomiese ontwikkeling is. Die Kachinprovinsie in die noorde van Mianmar gaan ook gebuk onder gewelddadige konflik. Die Chinese betaal Mianmar se soldate in die noorde om bykomende sekuriteit te verskaf vir die pyplynprojek in die lig van die onlangse geweld daar.
Afgesien van die pyplyn, het die Chinese ook belê in ‘n aantal hidroëlektriese damprojekte, soos die Myitsonedam-projek. Die dam, wat krag veral vir die suidweste van China, maar ook vir Mianmar tot ‘n mindere mate, sal verskaf, is deel van ‘n ontwikkelingsplan deur die Chinese om probleme in die binneland van China aan te spreek. Maar as gevolg van die geweld in die streek, is die projek op ys geplaas. Natuurlik, is dit ‘n bron van groot irritasie vir Beijing, wat dit as nog ‘n voorbeeld van Westerse inmenging in Chinese ekonomiese ontwikkeling beskou.
Dit is waar dat daar nog geen Westerse “stewels op die grond” in Mianmar is nie, maar die VSA gebruik natuurlik sagte mag om sy strategiese doelwitte te bereik. Benewens “demokratiese” NRO’s wat met die befondsing van die Amerikaanse regering opereer, is Indië ook bedrywig om Mianmar uit die Chinese invloedsfeer te probeer wikkel.
Daar is egter geen beter voorbeeld van die gebruik van sagte mag as die opkoms van Aung San Suu Kyi nie. Sy word tans, soos Nelson Mandela, voorberei op internasionale supersterstatus.
